On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

International

Walvis swem 5000km met gebreekte rug

───   17:48 Wed, 14 Dec 2022

Walvis swem 5000km met gebreekte rug | News Article
FOTO: USA Today

’n Boggelrugwalvis het 5000km met ’n gebreekte ruggraat geswem terwyl hommeltuigkameras haar reis gemonitor het.

Volgens 'n artikel op Peta Pixel, het Moon die boggelrug waarskynlik die gebruik van haar stert verloor toe 'n skip oor haar gevaar het, wat beteken sy moes die lang reis met “borsslag” aflê.

’n Hommeltuig het in September 2022 vir Moon afgeneem toe sy verby Fin-eiland se navorsingstasie aan die kus van Brits-Columbië in Kanada geswem het. Navorsers by BC Whales, wat die stasie bedryf, het dadelik besef daar is iets ernstigs fout.

“Dit was een van daardie ‘o my genade’-oomblikke toe ons besef het dit is Moon. Dit is nie asof sy skoliose het of iets wat net uit die bloute gekom het nie - sy is deur iets redelik hard getref,” sê BC Whales se uitvoerende hoof en hoofnavorser, Janie Wray.

'Ek het nog nooit so iets gesien nie'

“Ek het in my leeftyd as navorser nog nooit so iets gesien nie.”

Die span by BC Whales is oortuig dat Moon deur 'n vaartuig getref is weens die onnatuurlike S-vorm van haar ruggraat.

Op 1 Desember het 'n ander hommeltuig wat deur die Pacific-walvisstigting bedryf word, Moon aan die kus van Maui, Hawaii afgeneem - meer as 4800km ver van Kanada.

“Die ontstellende beelde van haar gedraaide lyf het ons almal diep geroer. Sy was waarskynlik in aansienlike pyn, tog het sy duisende kilometers migreer sonder dat sy haarself met haar stert kon voortdryf,” skryf BC Whales op sy Facebook-blad.

“Haar reis het haar uitgeteer en bedek met walvisluise gelaat – ’n bewys van haar erg verswakte toestand en van die uitgebreide lyding wat walvisse kan verduur nadat hul deur ’n vaartuig getref is.

'Dui op walvisse se instink en kultuur'

"Dit dui ook op hul instink en kultuur en tot watter uiterstes walvisse sal gaan om gedragspatrone te volg."

Boggelrugwalvisse word tot 15m lank en kan 'n verbysterende 40 ton weeg. Hulle is bekend vir die epiese reise wat hulle elke jaar onderneem, van die ysige waters in Alaska na die warmer waters in Mexiko en Hawaii waar hulle teel en geboorte skenk.

Moon staar tragies 'n uitgerekte dood in die gesig. "Sy ly en tog leef sy nog," vertel Wray. “Ons weet sy kom nie weer terug om ons te sien nie. Sy gaan binnekort doodgaan en ons almal voel: hoe gouer, hoe beter.

“As sy op land was kon ons ingryp. Maar omdat sy in die see is en weens haar grootte, is daar niks wat ons kan doen nie. En dit breek jou hart net nog verder in stukkies.”

'Ons het walvissones nodig'

Die aantal boggelrugwalvisse het die afgelope paar jaar toegeneem, maar Moon se besering is 'n bewys dat skepe nie by die groeiende walvisbevolking aangepas het nie.

"Selfs al konsentreer hy, kan ’n skipper steeds 'n boggelrugwalvis tref want hulle duik sommer net voor jou boot op," voeg Wray by.

“Die belangrikste ding om te doen is om stadiger te vaar, veral in gebiede waar ons weet daar is walvisse. Dit is maklik – vaar net stadiger. Ons het skoolsones. Ons het walvissones ook nodig.”

OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.