On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Anny
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

International

Komiese foto's wys natuurlewe se snaakse kant

───   16:57 Tue, 13 Dec 2022

Komiese foto's wys natuurlewe se snaakse kant | News Article
Die algehele wenner van 2022 se komedie-natuurlewefotokompetisie. FOTO: Jennifer Hadley

Die wenners van 2022 se komedie-natuurlewefotografie is onlangs aangewys, tot groot plesier van diereliefhebbers.

Die Amerikaanse fotograaf Jennifer Hadley se foto van ‘n leeuwelpie wat on-kat-waardig uit ‘n boom tuimel, is as die algehele wenner aangewys. Dit is in die Serengeti-natuurreservaat in Tanzanië geneem.

“Die welpie en sy broer en suster was in 'n boom. Hy wou afklim en het oor die takke geloop op soek na die regte plek en het uiteindelik net vooroor getuimel. Dit was seker sy eerste keer in 'n boom en sy afklim het nie so goed afgeloop nie. Nadat hy op die grond beland het, het hy opgestaan en saam met ’n paar ander welpies weggehardloop,” vertel Hadley.

Hadley is verheug dat haar foto, wat 5000 ander inskrywings van 85 lande uitgestof het, die kompetisie gewen het. "Ek dink deel van wat die kompetisie wonderlik maak, is dat die meeste van hierdie foto's waarskynlik per ongeluk gebeur," sê sy.

'n Ander foto deur Hadley, van twee pikkewyne op ‘n strand in Falkland-eilande, is as die wenner van die People’s Choice-afdeling aangewys. Dit wys een pikkewyn in ‘n komiese "praat met die hand"-posisie.

Arthur Telle Thiemann van Spanje se “Say cheeeese”-foto van twee snellervisse wat lyk asof hulle vir die kamera glimlag, is die wenner in die Creatures Under the Water-afdeling.

“Hulle lyk dalk komieklik, maar dié visse kan nogal aggressief wees. Hierdie keer het hulle darem nie probeer om my te byt nie," vertel hy.

‘n Foto van ‘n seekoei wat lyk asof hy ‘n hap uit ‘n reier wil neem (maar eintlik net gaap), is die wenner in die Spectrum Photo Creatures of the Air-afdeling. Dit is deur Jean-Jacques Alcalay van Frankryk in die Krugerwildtuin geneem.

Vir die volledige lys van wenners en nóg lagwekkende foto's, kliek hier

Comedy Wildlife Photography


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.