International
Kettingroker voltooi marathon in minder as 4 ure─── 07:39 Wed, 16 Nov 2022
’n Chinese hardloper het die Xin'anjiang-marathon in Sjanghai in 3 ure en 28 minute voltooi terwyl hy deurgaans gerook het.
Die 50-jarige atleet, slegs bekend as Chen, het volgens ’n artikel deur Mirror die 42km met 'n sigaret in sy hand afgelê en 574ste uit meer as 1500 deelnemers geëindig.
Foto's van hom, wat al hardlopende kettingrook, het vinnig van hom 'n internetsensasie gemaak.
Dit is nie die eerste keer dat hy al rokende ’n marathon aanpak nie - hy is ook tydens die 2018 Guangzhou-marathon en 2019 Xiamen-marathon met ’n sigaret afgeneem.
Alhoewel die meeste gebruikers op die Chinese sosiale media-webwerf Weibo Chen vir sy manewales bewonder, het ander daarop gewys dat sy rook ander hardlopers negatief kan beïnvloed.