On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

Health

Hou jou kind só veilig in en om water

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:30 Sat, 12 Oct 2024

Hou jou kind só veilig in en om water | News Article
Moet nooit net op swemspeelgoed of -lesse staatmaak om jou kind te beskerm nie. Foto: Babyology

Jong kinders kan in ’n oogwink verdrink, selfs in baie vlak water.

Daarom is dit so belangrik om dié somer seker te maak dat jou swembad so veilig moontlik is. Eenvoudige maatreëls, soos om ’n stewige heining op te sit, ’n swembadseil te gebruik en ’n konstante oog oor kinders te hou, kan ’n jong lewe red, berig Childsafe.

Hou jou kinders veilig in en om water met hierdie wenke:

1. Swembadveiligheid

– Maak seker jou swembad is ten volle omhein met ’n selfsluitende hek wat aan SABS-vereistes voldoen. Die slot moet kinderbestand wees.

– Maak seker daar is geen potplante of bome naby die heining wat kinders kan gebruik om mee oor te klim nie.

– Moenie die swembadhek ooplaat of om enige rede oopstut nie.

Eenvoudige maatreëls kan ’n jong lewe red. Foto: iStock

2. Swembadseile

– ’n Swembadnet of stewige seil moet oorgetrek wees wanneer niemand swem nie. Maak seker jy verstaan hoe om dit reg te gebruik en laat dit gereeld versien volgens die installeerder se vereistes.

– Onthou, ’n net van goeie gehalte is slegs veilig as dit korrek geïnstalleer en stewig vasgemaak word.

3. Swembadalarms

– Swembadalarms kan jou waarsku wanneer iemand die water binnegaan, maar dit behoort nie jou enigste veiligheidsmaatreël te wees nie. ’n Hek-alarm, wat loei wanneer die hek oopgaan, is ook nuttig, maar ook saam met ander maatreëls.

’n Net van goeie gehalte is slegs veilig as dit korrek geïnstalleer is. Foto: iStock

Jou optrede

– Terwyl swemlesse belangrik is sodra jou kind oud genoeg is, moet jy nooit net op swemspeelgoed of -lesse staatmaak om jou kind te beskerm nie. Onthou, geen kind is nooit werklik veilig van verdrinking nie.

– Kinders moet nooit sonder volwasse toesig swem of sonder toesig naby die swembad speel nie.

– Waarsku jou kinders om nie roekeloos om die swembad te speel nie.

– Vermy enige afleidings wanneer jy toesig hou oor kinders in die water.

– Leer kardiopulmonêre resussitasie (KPR) sodat jy voorbereid is in ’n noodgeval.

– Sodra kinders oud genoeg is, laat hulle oefen om met hul klere aan te dryf.

– Leer jou kind om nooit in onbekende waters te duik of te spring of waar ander in die pad is nie.

Kinders moet nooit sonder volwasse toesig swem nie. Foto: iStock

Bekommerd oor die buurman se swembad?

– As die veiligheidsmaatreëls by jou bure se swembad nie aan jou standaarde voldoen nie, sorg dat jou kinders nie toegang daartoe het nie.

– As jou kinders bedags by die huis bly met ’n oppasser, maak seker dat die oppasser kan swem, al die veiligheidsmaatreëls verstaan en opgelei is in KPR.

Hier is nog wenke deur NetCare911:

– Moet nooit kinders alleen in die bad los nie. Ignoreer die telefoon of deurklokkie, of neem jou kind saam.

– Gebruik ’n glyvaste mat in die bad.

– Hou toilette toe met ’n veiligheidsknip.

– Maak baddens, emmers en klein poele leeg ná gebruik, en moenie dit laat rondstaan nie.

– Maak seker jou visdam is beveilig.

– Maak seker dat die tuinier die belangrikheid van waterveiligheid verstaan, sodat hulle nie hekke ooplos of swembadnette verwyder nie.

Leer KPR sodat jy voorbereid is in ’n noodgeval. Foto: iStock

– Maak seker dat kinders nie toegang tot die jacuzzi het nie.

– As jy naby ’n rivier of dam woon, maak seker dat jou erf omhein is sodat kinders nie sonder toesig die water kan bereik nie.

– Gebruik altyd reddingsbaadjies op bootvaarte.

– Hou jou kinders by die strand fyn dop, en swem net waar daar lewensredders is.

– Leer jou kind noodnommers en maak seker dat enige kinderoppasser hierdie nommers ken en verstaan wat om te doen in ’n noodgeval.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.