On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Health

Mangels: voorkoming, gevare en wanneer dit moet uit

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:11 Fri, 05 Jul 2024

Mangels: voorkoming, gevare en wanneer dit moet uit | News Article
Foto: lawoto.com

“Ouers moet egter bekommerd raak wanneer hulle snork, oopmond slaap en soms hul asem vir ‘n rukkie ophou terwyl hulle slaap.”

’n Mangeloperasie is vandag een van die algemeenste operasies, maar wanneer moet jou kind se mangels regtig uitgehaal word?

“Mangels is massas limfatiese weefsel aan albei kante van die agterkant van die keel saam met die adenoïede, ook bekend as limfatiese weefsel wat agter die neusholte geleë is,” sê dr. Chantelle van der Bijl, ook bekend as Bloem MomDoc op sosiale media.

“Die mening dat mangels bakterieë ‘uitfiltreer’ is onwaar, maar wetenskaplikes dink wel dat hulle kan help om die liggaam teen bakterieë en virusse te beskerm deur teenliggaampies te help vorm.” Sy sê daar is geen bewyse wat aandui mangels speel ’n noodsaaklike rol in immuniteit nie. “Hoewel daar gepostuleer word dat hul rol in die liggaam is om infeksie te help voorkom, word hulle dikwels self besmet.”

Gesonde mangels is klein, pienkerige knoppe weefsel. Dit is baie dieselfde kleur as die omliggende area en die twee mangels is gewoonlik ewe groot. 

“Wanneer ’n kind mangelontsteking het, wat deur óf ’n virus óf bakterieë besmet word, sal die mangels helderrooi en opgeswel lyk.”

Algemene simptome van mangelontsteking is ‘n seer keel, hoë koors – gewoonlik bo 38°C – kliere onder die kakebeen en die nek, verlies aan eetlus, ore wat pyn, hees stem, stink asem, moeilik om te sluk of asem te haal. Sommige kinders raak ook naar, braak of het maagpyn.

‘Dit kan ook ’n bakteriële infeksie word’

Mangelontsteking is gewoonlik ’n virale infeksie en die simptome sal binne drie tot vyf dae vanself oplos. “Dit kan egter ook ’n bakteriële infeksie word en kan antibiotika benodig as dit nie verbeter nie.”

Sy noem dat antibiotika egter nie altyd vir mangelontsteking voorgeskryf word nie, aangesien dit gewoonlik ’n virusinfeksie is. “Antibiotika sal nie effektief wees as dit ’n virusinfeksie is nie. Ouers moet egter altyd eers kyk of kinders nie kan herstel sonder antibiotika nie. Indien die simptome ná vyf dae voortduur of vererger, is die oorsaak heel waarskynlik ’n bakteriële infeksie, en dan sal die dokter antibiotika voorskryf.”

“Ouers moet egter bekommerd raak en ‘n kind dadelik dokter toe neem wanneer hulle snork, oopmond slaap en soms hul asem vir ’n rukkie ophou terwyl hulle slaap (dit staan bekend as slaapapnee). Dit is alles obstruktiewe simptome.”

Sy sê mangelontsteking kan ook nagevolge hê indien dit nie vinnig behandel word nie. “Dis baie belangrik om ‘n keelseer te ondersoek, omdat dit ook ’n peritonsillêre abses kan wees.

“Dit gebeur wanneer bakterieë van die mangels na die spasie rondom dit versprei en dit met etter vul. Hierdie toestand kan baie pyn veroorsaak en iemand wat dit het, sal sukkel om hul mond oop te maak.”

‘Komplikasies van abses kan lewensgevaarlik wees’

Van der Bijl waarsku dat indien dit nie behandel word nie, die infeksie dieper in die keel kan versprei, wat die lugweg belemmer. “Komplikasies van hierdie abses kan lewensgevaarlik wees.”

Ander simptome sluit in koors, hoofpyn, oorpyn, kwyl of ’n hees stem. ‘n Peritonsillêre abses moet gedreineer word. “Dit kan gedoen word deur die vloeistof met ’n naald en spuit te verwyder – ’n prosedure wat naaldaspirasie genoem word. Die abses kan ook onder verdowing oopgesny word om die vloeistof te dreineer.”  

Sy sê onbehandelde mangelontsteking, oorinfeksies of asemhalingsprobleme kan probleme veroorsaak. “Soms kan die infeksie versprei na hartkleppe (rumatiekkoors) of niere (glomerulonefritis).”

Jy moet teruggaan na jou huisdokter as jou kind sukkel om asem te haal en toenemend snork wanneer hy slaap, sukkel om te sluk, en tekens van dehidrasie toon of sukkel om hul mond oop te maak.


Van der Bijl sê mangelontsteking kan voorkom word deur goeie higiëne, gereeld hande te was, nie eetgerei te deel nie, tandeborsels moet nie aan mekaar raak nie  en gebruikte sneesdoekies in die asblik te gooi nadat dit gebruik is.

Wanneer is ’n kind oud genoeg, die gevare en risiko’s.

Om die regte tyd vir chirurgie te bepaal, behels die opweging van die voordele teen die moontlike risiko’s. Chirurgie moet oorweeg word as die noodsaaklikheid swaarder weeg as die gevare. “Indien die kind ’n ernstige toestand soos apnee het, kan vinnige chirurgiese ingryping vereis word, ongeag die ouderdom. Hoe jonger die kind, hoe meer dwingend moet die rede vir die operasie wees. Hoewel chirurgie op kinders so jonk as twaalf maande in uiterste gevalle uitgevoer kan word, is dit skaars.”

Van der Bijl sê elke operasie hou risiko’s in en ouers moet bewus wees van algemene komplikasies en ernstige, potensieel lewensgevaarlike probleme. Onlangse navorsing het bevind ’n oordosis medikasie eerder as bloeding, die vernaamste oorsaak van dood ná mangeloperasies is.

’n Mangeloperasie kan tussen 20 tot 30 minute duur en die mangels word gewoonlik heeltemal verwyder.

“Die risiko’s ná die operasie kan bloeding wees wat 1% tot 10%  van die gevalle is, lug wat deur die neus lek, wat die stem en eet beïnvloed, hoewel dit tipies vanself oplos, asook chroniese keelpyn wat in uiterste gevalle ’n probleem sal wees.”  

OFM Nuus/Charné van der Merwe cg/dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.