On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Health

7 aanvullings vir die kouer maande

───   MORNÉ VAN ROOYEN 20:17 Thu, 16 Mar 2023

7 aanvullings vir die kouer maande | News Article

Net ’n paar weke gelede was dit nog somer, maar die dae voel klaar korter en die nagte koeler. Die herfs is ’n oorgangsfase en ’n goeie tyd om seker te maak jy bly die hele winter lank gesond. Ons kyk na sewe aanvullings wat jou hiermee kan help.

1. Vitamien C

Vitamien C is ’n ou staatmaker wat jou immuunstelsel teen die winter se aanslae kan bewapen. As jy nie lief is vir sitrusvrugte nie of nie genoeg daarvan eet nie, kry ’n aanvulling, maar sorg dat dit nie 1 000 mg per dag oorskry nie omdat dit skadelik vir jou gesondheid kan wees. Goeie natuurlike bronne van Vitamien C is lemoene, suurlemoene en pomelo’s, tamaties, aarbeie, broccoli, Brusselse spruite, blomkool en aartappels.

2. Vitamien D

Solank jy seker maak jy bring gereeld tyd deur in die son, selfs die wintersonnetjie, behoort jy nie ’n tekort aan dié belangrike vitamien te ervaar nie. Dit kan wondere vir jou gemoedstoestand doen, reguleer die hoeveelheid kalsium en fosfaat in jou liggaam en hou bene, tande en spiere gesond. Min kossoorte bevat van nature Vitamien D. As jy dus agterkom jy raak wintertyd bedruk, bring meer tyd in die son deur of gesels met jou apteker oor ’n aanvulling.

3. Vitamien B-kompleks

As jy iemand is wat ál minder energie het namate die dae korter en die nagte langer word, oorweeg ’n Vitamien B-kompleks, wat bestaan uit Vitamiene B1, B2, B3, B5, B6, B7, B9, B12. Hulle dra elkeen by tot die gesonde werking van jou liggaam en kan as boustene beskou word wat jou energievlakke verbeter, jou brein beter laat funksioneer en selmetabolisme bevorder. B-vitamiene kom in ’n groot verskeidenheid kossoorte soos melk, kaas, eiers, lewer en nietjies, vleis, donker groete, peulgewasse, piesangs en neute en sade voor.

4. Probiotika

Dié wonderwerkers versterk jou immuunstelsel sodat jou liggaam siektes kan bestry. Dit is ook voordelig vir mense wat ly aan seisoensallergieë en asemhalingsprobleme. Probiotika kan die bakterieë in jou dermkanaal balanseer en gesonde spysvertering bevorder, veral in die kouer maande wanneer ’n mens geneig is om minder bedrywig te wees en swaarder kos te eet.

5. Gemmer

Dié veelsydige wortel word sedert die vroegste tye vir sy gesondheidsvoordele gebruik. Dit kan naarheid verlig, ’n omgekrapte maag bedaar en het blykbaar ant-inflammatoriese eienskappe. Dit help met die simptome van verkoue, griep en hoofpyn. As jy nie mal is oor die smaak van gemmer nie, neem dit as ’n aanvulling. So nie, maak heerlike smoothies met vars gemmer, rasper dit soggens oor jou hawermout of ander ontbytkos, laat ’n teelepel daarvan vir 5 minute in ’n koppie kookwater trek vir ’n gesonde tee of gebruik dit in tuisgebakte appeltert of gemmerkoekies.

6. Heuning

As jy in die kouer maande ly aan ’n gebrek aan energie en jy saans net wil opkrul met ’n boek, kort jy die woema wat heuning ’n mens bied. Die groot hoeveelheid koolhidrate, glukose en fruktose in heuning gee ’n mens kitsenergie. Begin jou dag met ’n lepel in jou pap of vervang die suiker in jou tee of koffie met dié heerlike, gesonde alternatief. Dit sal jou verstand ook vlymskerp help hou deur die wintermaande omdat dit breinselle van die nodige antioksidante voorsien.

7. Multivitamiene

Ongeag hoe gesond ’n mens eet, bly dit moeilik om daagliks elke voedingstof wat jou liggaam nodig het in die regte hoeveelhede in te neem. ’n Goeie multivitamiene is die beste manier om seker te maak jy rus jou liggaam toe om siektetoestand te bestry, veral in die winter maande wanner mense minder vrugte eet, minder oefening kry en meer tyd in toe ruimtes saam met anders mense deurbring wat dalk reeds die een of ander aansteeklike siekte onder lede het.

Onthou ook om gehaltetyd saam met jou geliefdes deur te bring, weg van die elektroniese skerms waaraan ons so verknog geraak het. Gesels, kuier, lag, luister na opbeurende musiek, geniet die koeler weer en pas jou mooi op!  

OFM-nuus/Morné van Rooyen 

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.