On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

General

Interessante gas van ver besoek sonnige Danabaai

───   10:58 Thu, 25 Jan 2024

Interessante gas van ver besoek sonnige Danabaai | News Article
Strandgangers moes vanoggend twee keer kyk toe hulle ’n koningpikkewyn op Tweede Strand, Danabaai, sien.

Strandgangers in Danabaai moes twee keer kyk toe hulle ’n koningpikkewyn op Tweede Strand sien waggel.

’n Jong koningpikkewyn, wat na bewering van die Sub-Antarktiese Eilande gekom het, het Woensdag, enkele dae ná “Penguin Awareness Day”, op ’n “baie besige strand” op die Tuinroete uitgewaggel.

Carol Walton van die Seabird and Penguin Rehabilitation Centre in Mosselbaai sê hulle het die verlore pikkewyn ingeneem – van duisende kilometers ver – en in algehele isolasie geplaas nadat dit strandgangers by Danabaai se Tweedestrand verras het.

Sy sê dit is gedoen om enige kontak met ander pikkewyne te vermy omdat die pikkewyn moontlik ’n siekte kan dra.

“Ons wag net vir al die verskillende toetse se uitslae. Ons doen bloedtoetse vir verskillende parasiete, sowel as voëlgriep, wat in die verlede ’n groot probleem in Antarktika was,” sê Walton.

Sy sê hulle sal binne 24 uur ’n volledige prentjie hê van die gesondheid van die pikkewyn, waarna dit na ’n verlate strand geneem en gemonitor sal word om te sien of dit na die see sal terugkeer.

“Hopelik sal dit teruggaan na waar dit hoort in Antarktika, wat sowat 5 000 kilometer van ons af is. As daar ’n probleem is en ons dit nie kan loslaat nie, sal ons ’n ander plan moet maak. Dan sal die pikkewyn in rehabilitasie moet bly.” 

Dit is nie in hierdie stadium moontlik om vas te stel of die pikkewyn ’n mannetjie of ’n wyfie is omdat ’n DNS-toets gedoen moet word.

Die koningpikkewyn (Aptenodytes patagonicus) is ’n voël wat voorkom op die Antarktiese-eilande en baie seldsaam in Suid-Afrika is.

Dwerg-, geeloog-, esel- en brilpikkewyne broei vir die eerste keer op tweejarige ouderdom; die wyfies van Adélie-, stormband-, koning- en keiserpikkewyne begin gewoonlik ’n jaar later met hul eerste broeipoging, terwyl die mannetjies dit nog 12 maande verder uitstel. In die geval van koningpikkewyne, besoek weinig eenjariges byvoorbeeld enigsins die kolonie. Ook in hul tweede lewensjaar verskyn hulle dikwels vir slegs ’n paar dae daar.

In die jare daarna skuif die eerste verskyning in die kolonie nie net keer op keer vroeër nie, maar bly hulle ook langer in die kolonie soos wat hulle ouer word. By mannetjies is dit nie ongewoon om eers op agtjarige ouderdom te begin broei nie.

OFM Nuus cg/dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.