On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

General

Vandag in die Nuus: 23 September 2022

───   18:31 Fri, 23 Sep 2022

Vandag in die Nuus: 23 September 2022 | News Article

Hierdie is van jou hoofstories vandag, 23 September 2022, soos berig op OFM, die klank van jou lewe.

Die staat het nuwe verdagtes, insluitend 'n voormalige Vrystaatse Premier se persoonlike assistent, by die 2014 Asbes Projek-hofsaak gevoeg.

Staatsaanklaer, advokaat Johan De Nysschen, het vandag aan regter Phillip Loubser gesê dat voormalige premier Ace Magashule se persoonlike assistent - Moroadi Cholota - by die akte van beskuldiging gevoeg is.

Verder het die voormalige hoof van die Gautengse departement van menslike nedersettings, Margaret-Ann Diedricks, wat in Julie vanjaar in hegtenis geneem is, ook vandag haar eerste hooggeregshofverskyning gemaak.

De Nysschen sê amptenare in die Verenigde State van Amerika (VSA) verwerk tans die uitlewering van Cholota in oorleg met die Suid-Afrikaanse regering.


Die minister van Vervoer, Fikile Mbalula, het aangekondig dat die gedeelte van die N-2 by Pongola in KwaZulu-Natal waar 20 mense Vrydag in ‘n botsing dood is, verbreed gaan word.

Mbalula het die aankondiging gedoen met die bekendmaking van die verslag oor die botsing.

Agttien van die slagoffers was laerskoolleerlinge wat op die bakkie vervoer is.

Die vragmotorbestuurder, Sibusiso Siyaya, is in aanhouding nadat hy op aanklagte van strafbare mansslag in die hof verskyn het.

Hy het volgens ‘n video ‘n ander voertuig oor ‘n sperstreep verbygesteek en reg van voor met die bakkie gebots.


Die minister van Minerale Hulpbronne en Energie, Gwede Mantashe, sê Suid-Afrika moet bybly by die res van die wêreld in die oorskakeling na hernubare energiebronne.

Hy sê die land benodig bykomende elektrisiteitsvermoë om die ekonomie uit te bou.

Mantashe sê hoewel dit grootliks buitelandse maatskappye is wat betrokke is by hernubare kragprojekte, sal die regering die lokalisering van projekte en die bemagtiging van swart maatskappye ondersteun.

Hy sê groei in hernubare projekte sal ook help om infrastruktuur in veral onderontwikkelde gebiede te bou.

Die minister het gister kontrakte met drie verskaffers van wind-energie onderteken in ‘n poging om die voortslepende energiekrisis in die land die hoof te bied.


Intussen sal Fase 5 Beurtkrag steeds tot en met 05:00 Saterdagoggend in plek bly.

Luidens 'n verklaring deur Eskom sal dit vanaf 05:00 Sondagoggend na Fase 4 afgeskaal word.

’n Verdere verlaging na Fase 3 sal Maandag om 05:00 geïmplementeer word.


LUISTER:

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.