On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Entertainment

Oudleerder van Eunice skitter as kelnerin in ‘Binnelanders’

───   HEIDRÈ MALGAS 15:43 Thu, 07 Nov 2024

Oudleerder van Eunice skitter as kelnerin in ‘Binnelanders’ | News Article
Dimpho Thuhloane. Foto verskaf

’n Oudleerder van die Hoërskool Eunice het ’n rol losgeslaan as ’n kelnerin in die Afrikaanse sepie Binnelanders op kykNET.

Dimpho Thuhloane (26) het in 2016 matriek geskryf aan dié Bloemfonteinse meisieskool en werk nou hard aan ’n meestersgraad in drama en rolprentstudie aan die Universiteit van Pretoria. 

“Ek speel ’n kelnerin in een van die restaurante genaamd Tonic, maar ek kan ook gesien word in ’n ander restaurant, Amoret. My medeakteurs spot dat ek ’n dubbelskof werk,” vertel Thuhloane.

Hoewel haar karakter nog nie ’n naam het nie, speel sy met oorgawe. “Dit is fassinerend, want ek ontdek haar soos die tyd aanstap. Sy is nie dramaties nie maar saggeaard, baie soos ek. Dis amper asof ek myself op televisie uitbeeld.

Dimpho beskryf haar tyd op die stel as ’n wonderlike ervaring. Foto verskaf

Dimpho het haar liefde vir die kunste ontwikkel tydens haar tyd by Eunice, wat daarvoor bekend is dat hulle kunstenaars kweek.

“Ek moes ’n ekstra op Binnelanders gewees het, maar toe vind ek uit ek het reëls en ’n teks om te leer. Ek praat enige taal waarmee ek gemaklik is, maar aangesien dit ’n Afrikaanse program is, gebruik ek die 60% Afrikaans wat ek ken,” skerts Thuhloane. “Hulle het vir my die Afrikaanse reëls gegee, en ek het dit bestudeer en bemeester.”

Dimpho beskryf haar tyd op die stel as ’n wonderlike ervaring, wat haar positief beïnvloed het danksy almal se warmte en vriendelikheid.


“Om akteurs te ontmoet na wie ek van kleins af gekyk het, was ’n ongelooflike ervaring. Ek het met 7de Laan grootgeword en nou is sommige van daardie bekende gesigte in Binnelanders.

“Maar jy mag jou nie op die stel aan hulle vergaap nie; jy moet professioneel en gefokus bly. Almal is toegewyd, soos ’n mens verwag van ervare akteurs.”

Haar raad aan aspirantakteurs is om te netwerk en aan verhoudings te bou, want dit kan die deurslag gee in dié bedryf. Om ’n betroubare agent te hê is ook ’n groot voordeel.

“Dit help aspirantakteurs omdat sommige mense by agentskappe is, maar nog nie TV-rolle of enige werke gekry het nie. As jy jouself in daardie posisie bevind, soos eenkeer met my gebeur het, moet jy oop kaarte met jou agent speel. Hulle is daar om jou te help en in die regte rigting te stuur.”


Afgesien van toneelspel is Thuhloane passievol oor haar projek “InNumbers”, ’n gebedsplatform waar mense saamkom om te bid vir ons land.

“Hoewel baie mense Suid-Afrika as ’n ‘hopelose woestyn’ beskou, is daar individue soos ek wat verder kyk. Ek glo ons woon in een van die merkwaardigste lande in die wêreld. Kyk net hoe goed vaar ons sportmense!”

Thuhloane wou aanvanklik ’n mediese dokter word, maar haar tyd by Eunice het haar aan verskeie geleenthede blootgestel. Sy was al in verskeie TV-advertensies, insluitend dié vir Makro en Fidelity, maar om ’n rol in ’n sepie los te slaan is ’n belangrike prestasie.

“My familie was in ekstase om my vir die eerste keer op TV te sien. My suster sou die toneel opneem en dit aan my stuur; sy kan steeds nie glo ek is op TV nie.”

Dimpho het haar liefde vir die kunste ontwikkel tydens haar tyd by Eunice, wat daarvoor bekend is dat hulle kunstenaars kweek. Foto verskaf

Wat sou sy graag vir voornemende akteurs wou sê? “Daar sal baie verwerping in hierdie bedryf wees, maar daar is altyd hoop om daai een geleentheid te kry. Daar kan dalk ’n honderd ‘nees’ wees.

“Glo my, selfs die grootste beroemdes ervaar verwerping; hulle lê ook oudisies af en beleef terugslae. Hou maar net aan soek na daardie een ‘ja’ wat na jou toe kom. Glo dit kom en strewe daarna.”

Binnelanders, ’n halfuur lange weeksdagdrama, handel oor die wel en wee van die mense wat hul toevlug en heil vind in die Binneland Kliniek in Pretoria. Nuwe episodes word saans om 19:30 op die DStv-kanaal 144 uitgesaai.

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.