On Now
Weekends 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: 00:00 - 05:00 Early Mornings with Oscar
Listen Live Streams

Entertainment

Finale afrondings vir Grey’t musiekwêreldreis

───   16:04 Tue, 20 Aug 2024

Finale afrondings vir Grey’t musiekwêreldreis  | News Article
Repetisies vir die Grey’t Global Fiesta konserte by die Sand du Plessisteater. Foto verskaf

“Hierdie jaar se tema is ’n globale feesviering, wat deelnemers en toeskouers op ’n musikale reis rondom die wêreld neem.”

Vanjaar se Grey College musiekfees beloof ’n onvergeetlike ervaring te wees.

Die Grey’t Global Fiesta-konsert wat op 24 Augustus om 12:00 by die Sand du Plessisteater in Bloemfontein aangebied word sluit nie net optredes in deur die skool se talentvolles nie, Die Kontrak se Dodo Nyoka en Monique Steyn, asook The Voice se Corneil Muller gaan die verhoog deel.

Hierdie jaar se tema is ’n globale feesviering, wat deelnemers en toeskouers op ’n musikale reis rondom die wêreld neem.

Een van die organiseerders, Brenda Myburgh, vertel opgewonde oor die ongelooflike geleentheid wat die ervaring vir die leerders bied. “Die fees is nie net ’n geleentheid vir die leerlinge om hul musikale talente ten toon te stel nie, maar ook ’n kans om saam met professionele kunstenaars op ’n wêreldklas verhoog te werk.”

Die Grey College musiekfees het sy oorsprong in 1982 toe dit as ’n koorfees begin het. “Skole van regoor die land het deelgeneem met hul kore.

“In 2005, tydens die skool se 150ste bestaansjaar, het die destydse hoof, Johan Volsteedt, besluit om die fees te herontwerp en die fokus te verskuif na Grey College se eie talentvolle leerlinge. Dit was toe dat die idee van ’n musiekfees met professionele kunstenaars, wat saam met die leerlinge optree, gebore is.”

Die skool sal hul splinternuwe Drumline-instrumente ook vir die eerste keer vir hierdie vertoning inspan. “Hierdie instrumente is van die bestes op die mark en die Grey-seuns is bevoorreg soos min ander om hierdie topgehalte instrumente op skoolvlak te kan bespeel,” skryf die skool op hul Facebookblad.

“As ek die name sien van almal wat nou al betrokke was … Ek voel soos deel van die elite in Bloemfontein. Dis regtig ’n musikale bucket list vir my, nou al vir jare. Ek bring my dancing shoes; ek sal op ’n hoë hak kom baljaar daar. Ek kan nie wag nie!” vertel ‘n stralende Steyn.

Sy vertel van die betowering wanneer ’n groot getal stemme bymekaar kom, en veral ’n massakoor. “Daar is maar net iets daaraan om ’n massakoor en ’n orkes te hê, en iets wat op ’n grootskaalse produksie gebeur. Mens voel mos heeltemal begeesterd. Ek gaan myself probeer weerhou om nie te tjank op die verhoog nie.”

Daar gaan na verwagting op ’n stadium ’n duisend seuns saam sing. ’n Aantal leerders het ook by die Good Morning Breakfast-span kom inloer om ’n voorsmakie van die konsert te gee.

“Daar is ’n wanpersepsie dat Grey College hoofsaaklik ’n sportskool is, maar dieselfde seuns wat so op die sportveld uitblink, beoefen ook kulturele aktiwiteite,” vertel Myburgh. “Ons leerlinge is so gebalanseerd omdat hulle nie net akademies en sport doen nie, maar ook deelneem aan kultuur.

“Dit is wonderlik om te sien hoe iemand wat dalk rugby of hokkie speel, op die verhoog in ’n heel ander lig gesien kan word.”

OFM is die trotse mediaborg van die Grey’t Global Fiesta en kaartjies kan by Webtickets of die Pacofs-kaatjiekantoor gekoop word. Vanjaar se Grey Musiekfees word met trots moontlik gemaak deur Nedbank en die Bram Fischer Jock Meiring Trust.

OFM Nuus mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.