Central SA
Son baie welkom in Vrystaat ná grootskeepse ontwrigting─── KAREN VAN DER BERG 12:40 Fri, 25 Apr 2025

Die son, wat Vrydag (25/4) sy kop uitgesteek, is ’n welkome prentjie vir Vrystaters wat reeds twee weke aanhoudende reënval beleef.
OFM Nuus het Donderdag berig oor die ongekende en buitengewone reënval wat dié provinsie op die oomblik ervaar lei tot groot chaos, oorstromings en ontwrigtings gelei het.
Die onafhanklike weerkundige Johan van den Berg het gesê die reën is abnormaal vir April. Die gemiddelde reën hier vir die maand is 30–40mm, met ’n bietjie hoër reënval na die ooste toe. In groot dele van die Vrystaat het meer as 100 mm reën in twee dae geval.
Mense is vasgekeer op plase ná ’n ongekende hoeveelheid reën in die distrik. Foto: Monique Terblanche
Monique Terblanche van die plaas Renosterdraai in die distrik Heilbron vertel sy en haar twee dogters, Lienke en Lumé, was Woensdag op die dorp vir skool toe haar man, Paul, haar bel en sê hulle moet liewer terug plaas toe kom voordat die paaie van so aard is dat hulle nie sal kan terugkeer nie.
Sy sê hulle het so 10:45 deur ’n spruit op pad plaas toe gery. “Ons was net-net betyds deur. As ek nou die video kyk van waar ons deurgery het, weet ek dit was absolute malligheid.”
Hulle kon eers laat Vrydagoggend weer dorp toe ry, maar moes met ’n lang ompad gery het. Hulle plaas is tussen Koppies en Heilbron. Riviere en spruite in die distrik het oorstroom en paaie het weggespoel. Die Koppiesdam is 175% vol.
“Ons sal nou baie versigtig moet ry en kyk hoe die paaie lyk wanneer dit droog is. Baie van die paaie het nou vreeslike diep slote soos die water gespoel het.
“Dit is ’n slegte tyd vir meeste boere in die distrik. By ons is dit nou lamtyd vir die ooie. Met die koue en nat weer is baie van die ooie te swak en kan nie vir die lammetjies melk gee nie. Die skape kan ook nie by die kraal uitkom nie en moet in die veld slaap. Behalwe vir die koue moet hulle ook die jakkalse trotseer. Dit is moeilike tye.”
’n Ongekende hoeveelheid reën het in die distrik geval. Foto: Monique Terblanche
Sy sê hul sojaboonoes is ook in gedrang. “Die bone was nou gereed om geoes te word. Ons sal sien wat met hulle gebeur het sodra die landerye weer droog is.”
Sy sê hulle probeer nou positief bly.