Central SA
Niemand aangekeer twee weke ná Noord-Kaapse kleuter sterf─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:46 Fri, 25 Apr 2025

Twee weke nadat ’n kleuter van die Noord-Kaap in ’n tref-en-trap-ongeluk dood is, is niemand nog in hegtenis geneem nie.
Lebone Jakkals het gesterf in ’n voorval op 11 April in die township Las Vegas op Warrenton, sê sers. Molefi Shemane, provinsiale polisiewoordvoerder. “Warrenton se polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat ’n driejarige aan sy beserings beswyk het.”
Sy sê die kleuter was na bewering ten tyde van die ongeluk op pad huis toe nadat hy tussen 17:00 en 18:00 saam met vriende ’n entjie van sy huis af gespeel het. “Met die aankoms van die familielede op die toneel was die kleuter reeds dood,” sê Shemane, en voeg by die seuntjie se maats het die ongeluk sien gebeur.
Op 17 April – dieselfde dag waarop Jakkals ter ruste gelê is – het inwoners die strate ingevaar en gestap van die Ikhutseng-gemeenskapsaal na die Warrenton-polisiekantoor, waar hulle geregtigheid geëis het en gevra het vir vinnige optrede.
Volgens Shemane is die familie en gemeenskap op soek na antwoorde. “Die familie van die oorledene word gereeld deur die ondersoekbeampte op hoogte gehou van die vordering van die saak.”
Intussen bly nog ’n noodlottige tref-en-trap-saak onopgelos in die Noord-Kaap.
’n Man het op 1 Maart op die N14 naby Melkstroom sy lewe verloor, sê ao. Omphile Masegela, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.
Die betrokke bestuurder het weggejaag en word steeds gesoek.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat met die ondersoek kan help, om sers. Bahedile Nkwadipo by 082 495 4615 te skakel.
OFM Nuus cg