Central SA
Vrystaatse polisie soek vermeende bedrieër─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:26 Tue, 15 Apr 2025

Die polisie op Viljoenskroon vra die publiek moet ’n verdagte help opspoor wat glo by ’n bedrogsaak betrokke is.
’n Lasbrief vir die inhegtenisneming van Celiwe Ndawonde is uitgereik, sê sers. Josephine Rani, provinsiale polisiewoordvoerder.
“’n Saak van bedrog is op 12 Oktober 2023 aanhangig gemaak nadat die klaer ’n tender toegeken is om rugsakke te verskaf. Die klaer het ’n verskaffer gekry wat glo die nodige items kon lewer, en ’n onmiddellike betaling van R86 917 is gemaak in die verwagting dat die goedere binne 24 uur afgelewer sou word.”
Geen spoor van verskaffers
Volgens Rani het geen aflewering egter plaasgevind nie en van die verskaffer is daar sedertdien geen spoor nie.
Enigiemand wat kan help met inligting oor die verdagte moet speursers. George Nkoane by 083 822 5834 nader. Die MySAPS-app kan gebruik word om inligting te deel of bel Stop Misdaad by 08600 10111.
Intussen het nog niemand na vore gekom om die liggaam van ’n man, wat in die Vrystaat gevind is, te identifiseer nie, sê sers. Palesa Thabana polisiewoordvoerder.
Oorledene in Welkom
Die polisie in Welkom doen ’n dringende beroep op die publiek om te help met die identifisering van die oorledene wie se ontbinde liggaam op 2 April omstreeks 18:49 gevind is.
Die liggaam is aangetref waar dit aan ’n boom gehang het naby Lakeviewpan.
“Die oorledene het ’n swart T-hemp, swart kortbroek en bruin skoene aangehad. Hy het ’n tatoeëermerk van ’n babahand wat ’n volwasse hand vashou aan sy linkerbinnevoorarm,” sê Thabana.
Twee tatoes
Sy voeg by dat die woord “chill” op die man se linkerboarm getatoeëer is, en dat hy ook ’n groot tatoeëermerk op sy linkerbeen het. “Die oorledene lyk goed versorg en is tussen 20 en 30 jaar oud.”
’n Geregtelike doodsondersoek is geopen en die ondersoek duur voort.
Enigiemand wat kan help met inligting oor die oorledene moet ao. Riaan de Lange by 082 821 9227 nader. Die MySAPS-app kan gebruik word om inligting te deel of bel Stop Misdaad by 08600 10111.
OFM Nuus cg