On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Toeris al vier dae vermis by Augrabies-waterval

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:57 Tue, 15 Apr 2025

Toeris al vier dae vermis by Augrabies-waterval | News Article
Die Augrabies-waterval in die Nasionale Augrabies-park. Foto: Wikipedia

Die Noord-Kaapse polisie doen ’n beroep op die publiek om ’n Kaapstadse toeris te help opspoor wat al vier dae vermis word nadat hy die Nasionale Augrabies-park besoek het.

Die man (66) het vermoedelik Donderdag (10/4) by die waterval aangekom en die volgende dag gaan stap, sê kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder.

“Toe hy om 16:30 nog nie teruggekeer het nie, het parkwagters bekommerd geraak en die saak dadelik by die Augrabies SAPD aangemeld. Sy persoonlike besittings en voertuig was steeds in die park.”

’n Omvattende soektog is onmiddellik na sy verdwyning van stapel gestuur.


Ehlers sê lede van die Augrabies SAPD, SAPD Airwing, Upington Soek-en-reddingseenheid, Upington K9-eenheid en ’n hommeltuigvlieënier is almal aktief betrokke by die deurlopende soekpogings.

Sy sê die naasbestaandes het in dié stadium nie toestemming verleen om sy naam of foto te gebruik nie.

Enigiemand wat kan help met inligting oor die vermiste persoon moet kapt. Robert Turner by 082 770 4208 of sers. Tshepo Marungwana by 084 298 5101 nader. Die MySAPS-app kan gebruik word om inligting te deel of bel Stop Misdaad by 08600 10111.

Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

20 mense hulle na hul dood in die kloof geval

Sedert die Nasionale Augrabies-park in 1966 rondom die waterval geproklameer is, het meer as 20 mense hulle na hul dood in die kloof geval. Vyf is deur die waterval meegesleur.

In 1979 het ’n Skandinawiese toeris ’n val in die kloof oorleef en in Oktober 1981 het ’n man ter nouernood aan die dood ontkom nadat die waterval hom meegesleur het. Talle liggame is met die jare in die poel onder die 56 m hoë waterval vasgekeer en nooit gevind nie.



In ’n ander saak doen die polisie in Jan Kempdorp ook ’n beroep op hulp om ’n vermiste persoon op te spoor wat al meer as twee jaar vermis word.

Seoki Philemon Makgata (30) is glo laas op 21 Desember 2022 by sy huis in Jan Kempdorp gesien is, sê lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder.

Seoki Philemon Makgata. Foto verskaf

“Seoki is laas deur sy suster gesien en het ’n swart sweetpakbroek, ’n swart Adidas-top en swart stewels gedra.”

Die ondersoek duur voort.

Enigiemand wat kan help met inligting oor die vermiste person moet speursersant Raneo Molelekeng by 060 976 9067 kontak. Die MySAPS-app kan gebruik word om inligting te deel of bel Stop Misdaad by 08600 10111.

Die publiek word daaraan herinner dat daar geen wagtydperk is om ’n persoon as vermis aan te meld nie.

OFM Nuus cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.