Central SA
Formele ondersoek geëis ná sangoma-ritueel aan NWU─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:12 Tue, 15 Apr 2025

’n Formele ondersoek word deur die Noordwes-Universiteit geëis ná ’n beweerde ritueel deur ’n sangoma wat glo gepaardgegaan het met bloedstollende gille.
Die voorval het na bewering Sondag (13/4) omstreeks 22:10 in ’n vrouekoshuis op die Potchefstroomkampus plaasgevind, sê Yvonne Gerber van AfriForum Jeug. “Die jeugorganisasie het Maandag inligting oor die voorval, saam met ’n lys van eise en ’n brief gerig aan prof. Marlene Verhoef, registrateur van NWU, ingedien.”
Gerber beweer die ritueel is in ’n koshuiskamer op ’n mede-inwoner uitgevoer en het na bewering gebede aan voorvadergeeste behels, asook ander tradisionele genesingspraktyke wat algemeen met sangomas vereenselwig word.
Sy sê paniekbevange inwoners het AfriForum Jeug onmiddellik ná die geleentheid gekontak. “Klank- en video-opnames wat deur inwoners van die spesifieke koshuis aan AfriForum Jeug gestuur is, vang duidelik die geskreeu vas, vermoedelik van die student wat deur die sangoma behandel is.”
Noordwes-Universiteit. Foto: NWU
AfriForum Jeug is intussen ingelig dat dit nie die eerste sangoma-verwante voorval was wat in dié koshuis plaasgevind het nie. “Sowat ’n maand gelede, ná ’n soortgelyke gebeurtenis, het verskeie bekommerde studente die koshuismoeder genader om hul nood uit te spreek,” vertel Gerber.
Haar reaksie was na bewering afwysend toe studente bloot aangesê is om nie bang te wees nie.
Volgens Gerber het Sondagaand se voorval studente beangs gemaak. “Tog is soortgelyke bekommernisse voorheen uit die weg geruim. Dit is duidelik dat die koshuisbestuur nie die emosionele en sielkundige tol begryp wat sulke gebeure op ander studente kan hê nie.
Waarskuwing – die onderstaande video kan sensitiewe kykers ontstel:
Baie vrouestudente voel nou onveilig in die koshuis, sê Gerber, terwyl sommige nie meer gemaklik in hul eie kamer of gedeelde gemeenskaplike gebiede is nie.
In die brief aan Verhoef beklemtoon AfriForum Jeug dat die eise nie gewortel is in godsdienstige of kulturele onverdraagsaamheid nie, maar eerder spruit uit ’n behoefte aan wedersydse respek en verantwoordelike bestuur binne gedeelde universiteitsruimtes.
Traumaberading moet aangebied word aan studente
Gerber sê AfriForum Jeug vra ’n formele ondersoek na die gebeure Sondagaand; die formulering van ’n duidelike universiteitstandpunt en -beleid oor godsdiens- en kultuurpraktyke in koshuise; en die aanwysing van gepaste ruimtes vir sulke rituele of seremonies, ruimtes wat verseker dat die regte van alle studente beskerm en gerespekteer word.
“Boonop eis ons dat koshuispersoneel opleiding ontvang in die gepaste bestuur van studenteklagtes, en dat traumaberading aangebied word aan studente wat emosioneel deur die voorval geraak is.”
Die universiteit sê by navraag ’n formele antwoord sal binnekort uitgereik word.
OFM Nuus cg