Central SA
Tweelingseun, wat 14 dae ná sy boetie gebore is, sterf─── KEKELETSO MOSEBETSI 11:27 Mon, 14 Apr 2025

Een van die tweelingseuns wat met ’n tussenpose van 14 dae in ’n Noord-Kaapse en Vrystaatse hospitaal gebore is, het gesterf.
Die Vrystaatse departement van gesondheid het die nuus Maandagoggend (14/4) bevestig.
’n Beplande mediakonferensie is afgelas wat die seldsame mediese verskynsel sou vier en meer insig sou bied, sê Mondli Mvambi, Vrystaatse gesondheidswoordvoerder.
Universitas- akademiese hospitaal. Foto: OFM Nuus
Die tweeling het die lewenslig onder buitengewone omstandighede aanskou. Die eerste baba is voortydig op 27 Maart in die Kuruman-hospitaal in die Noord-Kaap gebore.
Die ma is later na Bloemfontein oorgeplaas, waar sy die tweede baba 14 dae gedra het voor hy op 10 April in die Universitas- akademiese hospitaal gebore is.
“Hierdie seldsame geval het die aandag van die mediese gemeenskap sowel as die publiek getrek,” sê Mvambi.
‘Spesialiste sou verduidelik hoe so ’n vertraagde tweelinggeboorte moontlik is’
Die departement het ’n mediakonferensie beplan waar die ma saam met ’n span mediese spesialiste sou verduidelik hoe so ’n vertraagde tweelinggeboorte moontlik is, en watter implikasies dit vir moeder- en neonatale sorg inhou.
Die mediageleentheid is egter gekanselleer nadat dit bekend geword het dat die tweede baba wat in Universitas gebore is, oorlede is. Die presiese oorsaak van die baba se dood is nog nie bekend gemaak nie, en dit is onduidelik of dit verband hou met komplikasies van die seldsame geboortesituasie.
Spesialiste sou op die mediakonferensie daaroor uitgewei het.
OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cg/mvh