On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse DBV neem mishandelde diere in nadat skuiling gesluit is

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 06:00 Mon, 14 Apr 2025

Bloemfonteinse DBV neem mishandelde diere in nadat skuiling gesluit is | News Article
’n Hofsaak het aan die lig gebring dat ’n nalatige vrou mishandelde diere in haglike omstandighede aanhou. Foto ter illustrasie: iStock

Mishandelde diere van ’n onwettige diereskuiling in die Oos-Kaap is nou almal by ‘n Vrystaatse diereskuiling ná ’n hofbevel wat die verwydering van alle diere binne 24 uur vereis het.

Vyftien honde en 13 katte ontvang weer goeie versorging nadat hulle gered is deur die Bloemfonteinse DBV van ’n diereskuiling op Middelburg in die Karoo.

’n Diereskuiling, bekend as Pet Haven op Middelburg, is deur die Nasionale Vereniging vir die Voorkoming van Dieremishandeling (NSBV) gesluit, sê Jacques Peacock, woordvoerder van die NDBV.

Die skuiling se eienaar, Carol-Ann Ratcliff, is skuldig bevind aan die oortreding van die Dierebeskermingswet. Sy is tot 24 maande tronkstraf gevonnis (opgeskort vir drie jaar) en verbied om enige diereskuiling te bedryf of om diere vir vyf jaar aan te hou.


Volgens Peacock het die NDBV Pet Haven ondersoek nadat hulle talle klagtes ontvang het en diere ontdek het wat in haglike toestande geleef het, sonder toegang tot skoon water, kos of veeartsenykundige sorg. Ten spyte van die gebrek aan ’n wettige registrasie, het die skuiling voortgegaan om openbare skenkings te werf wat die situasie vererger het omdat skenkers mislei is.

“Die NDBV se spesialeprojekte-eenheid het op 18 Julie verlede jaar gereageer op ’n verslag van dieremishandeling by Pet Haven. Wat hulle ontdek het, was baie ontstellend,” sê Peacock.

“Ons het diere gevind wat in vuil hokke gehuisves was, met besmette water sonder voldoende kos en mediese sorg. Verskeie diere het duidelik gely met pyn weens onbehandelde wonde en siektes, asook geen hoop op verligting nie. Dit was verwoestend om te aanskou.”

Honde en katte is uit ’n skuiling gered. Foto: iStock

Selfs meer kommerwekkend was dat die sogenaamde skuiling nie wettiglik geregistreer was nie, maar steeds skenkings van welmenende lede van die publiek ontvang het. Volgens Peacock het dit die bedrieglike gedrag net versterk.

“Ná die aanvanklike inspeksie het Ratcliff selfs probeer om die NDBV en polisieondersoekers te intimideer deur ’n valse klag van intimidasie teen hulle in te dien – skynbaar in ’n poging om die gereg te belemmer.”

Peacock sê die staat het egter geweier om die valse klag te vervolg, en die NDBV het voortgegaan met hul ondersoek totdat die saak suksesvol in die hof afgehandel is.

Die  beskuldigde is verbied om enige diereskuiling te bedryf. Foto: iStock

Ná die uitspraak, het die Bloemfonteinse DBV ingespring om die diere van Pet Haven te red en te hervestig, insluitend dié wat in Ratcliff se huis gevind is, sê Zaandré Campher, bestuurder van die Bloemfonteinse DBV.

“Ons het Woensdag (9/4) ’n oproep van die nasionale DBV ontvang waar ons hulp benodig nadat ’n hofsaak aan die lig gebring het dat ’n nalatige vrou mishandelde diere in haglike omstandighede aanhou.”

Campher sê met hul aankoms het hulle dadelik die diere verwyder – 13 katte en 15 honde.

‘Dit gaan ’n lang proses wees’

Al die diere is na die Bloemfontein DBV gebring, waar die wat mediese aandag benodig, Donderdag behandeling begin ontvang het.

Volgens Campher het dit ’n hele dag geneem om die diere veilig te vestig, hulle van kos en water te voorsien en te verseker dat elkeen ’n sagte rusplek het. “Ons is tans nog besig om al die diere te ondersoek – dit gaan ’n lang proses wees.”

Hy sê ’n besluit oor watter diere geskik is vir aanneming sal in ’n later stadium geneem word.

Niemand is bo die wet verhewe wanneer dit by dierewelsyn kom nie. Foto: iStock

“Hierdie hofuitspraak is 'n oorwinning vir die NDBV en vir elke enkele dier wat in stilte agter die mure van hierdie sogenaamde ‘diereskuiling’ gely het,” sê Peacock. “Dit versterk dat niemand bo die wet verhewe is wanneer dit by dierewelsyn kom nie,” het hy gesê.

Hy sê mense is mislei en het geglo dat hulle ’n plek van deernis ondersteun, terwyl hulle eintlik onwetend verskriklike lyding ondersteun het. “Hierdie saak is ’n skerp herinnering dat wreedheid dikwels agter ’n masker van vriendelikheid skuil.”

Peacock het die Bloemfonteinse DBV se opregte dank uitgespreek vir die feit dat hulle so vinnig ingespring het om die diere te red.

Al die diere wat mediese hulp nodig het, word nou behandel. Foto: iStock

“Hierdie diere ontvang uiteindelik die sorg, liefde en aandag wat hulle te lank geweier is,” het Peacock gesê.

Die NDBV het bevestig dat hulle gereelde opvolginspeksies sal doen om te verseker dat Ratcliff by die hofbevel hou. “Ongelukkig is daar baie sogenaamde skuilings wat in werklikheid sentrums van wreedheid is – alles onder die dekmantel om diere te help. Diere verdien baie beter en ons sal aanhou veg vir hul beskerming,” sê Peacock.

Die NDBV doen ’n beroep op die publiek om enige vermoede van dieremishandeling by hul plaaslike DBV of direk by die NDBV aan te meld.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.