Central SA
Reitz-man in rolstoel se ‘hart vol dankbaarheid’─── 06:00 Fri, 11 Apr 2025

Hy trotseer reeds amper 20 seisoene die wind, weer, sonbrand en yskoue winters. Tog is Len du Preez van Reitz blymoedig en dankbaar.
Wanneer die taxi hierdie weermagveteraan soggens daar aflaai en later die dag weer kom oplaai, sê hy vir die Here dankie vir al sy goedheid en guns – en vir kosgeld.
As lede van die Dogs of War-motorfietsklub van Kestell in samewerking met die Lions-klub van Reitz hom nie onlangs met ’n vleisbraaigeselligheid bederf het en daaroor in die media berig is nie, sou ’n mens altyd oor Len gewonder het, oor wie dié alleenman in die rolstoel langs die teerpad is.
Lede van die Dogs of War-motorfietsklub van Kestell, in samewerking met die Lions-klub van Reitz, het hom onlangs met ’n vleisbraaigeselligheid bederf. Foto verskaf
Dogs of War is ’n klub vir veterane van die Bosoorlog, SAW, polisie en geassosieerdes in Suid-Afrika. Hul embleem bestaan uit ’n kaart van Afrika met ’n skedel binne die grens. Afrika was die plek waar die voormalige soldate van 1966 tot 1990 standpunt ingeneem het. Hulle vergeet nooit hulle makkers nie.
Len is een van daardie veterane. Hy het in 1979 by die weermag aangesluit in die personeeldienskorps. Hy is later na 2 Veldgenieregiment op Bethlehem verplaas van waar hy die bosoorlog meegemaak het.
Hy was ’n grenssoldaat en het ook in Katima Mulilo en Rundu vir Suid-Afrika geveg. Sy range in sy diensloopbaan was onder meer adjudant-offisier en sersant-majoor.
‘As jy die protokol volg, kan jy veilig werk’
In 1996 het hy die skeidingspakket aanvaar. Hy was op die kruin van sy loopbaan en is toe na Pretoria vir ’n offisierskursus. Dertien jaar in die buiteland het gevolg. Hy was ’n beroepslandmynopruimer in lande soos Afghanistan, Iran, Irak, Angola en Suid-Sudan.
“Om landmyne en rondom-items op te ruim klink vir mense na ’n gevaarlike werk,” vertel hy, “maar as jy die protokol volg, kan jy veilig werk. Ek het drie maande gewerk en dan vir drie maande huis toe gekom.”
Len was na Libië op pad toe suikersiekte onverwags by hom gediagnoseer is. In sy geval was dit so erg dat sy regterbeen bokant die knie en later die linkerbeen onder die knie geamputeer moes word. Dit was vir hom traumaties en hy was ses maande in 3 Militêre Hospitaal in Bloemfontein en ook in Universitas.
Hy is ook lief vir motorfietse en mooi karre wat verbygaan. Foto: Susan Maré
Eindelik het hy en sy vrou, Elma, van Bethlehem na Reitz verhuis en moes ’n plan gemaak word vir groter inkomste. Bestaande inkomste was net genoeg om vir die dak oor hulle kop en elektrisiteit te betaal.
So het hy langs die pad beland – vir kosgeld, sê hy. Hy het ’n reëling met ’n taxi om hom soggens na sy staanplek te neem en weer teen 12:00 te gaan haal. Die son kou ’n man langs die pad en brand van 13:00 op sy ergste.
Hy moet elke dag ’n goeie sonroom gebruik. In die winter staan hy drie uur langer langs die pad tot 15:00; koue is vir hom draagliker as ’n genadelose somerson, sê hy. Hy trek lekker dik aan in die winter en neem ook sop saam. “Ek is baie dankbaar. Ons het in die vyf jaar nog nooit honger gaan slaap nie. As jy die Hemelse Vader aan jou kant het, sorg Hy vir jou.
‘Dit kan stoksielalleen langs die pad word’
“Ek het al so baie mense ontmoet wat my goed behandel en ook vriende gemaak. Ek het al ’n motor sien verbyry wat ná tien minute teruggekom het. Soms is daar jongerige kinders wat aangeloop kom en vir my R2 gee.
“Dit kan stoksielalleen langs die pad word. Ek is nooit bang nie. Ek lag as ek daaraan dink dat ek daar langs die pad eintlik my eie baas en bestuurder van my eie onderneming is. Eintlik is dit die Here wat my onderneem en dra.”
Len erken dat slegte dinge in mense se lewe gebeur weens verkeerde of swak keuses. Hy is dankbaar dat hy nog sy weermagtyd se mediese fonds het en dat sy chroniese medikasie afgelewer word. Omdat sy ongeskiktheidspensioen nie by kos uitkom nie, was die teerpadstanery sy plan.
‘Glo in die Here, volg sy gebooie en Hy sal jou lewe vir jou bestuur’
Hy sal homself beskryf as eerlik, positief en iemand wat lief is vir mense. Hy is ook lief vir motorfietse en mooi karre wat verbygaan. By die huis luister hy en sy vrou radio, kyk na programme soos Kelders van geheime op hulle Open View-televisiekanale en soms braai hulle ’n vleisie.
Hy is lief om skaak te speel. Hy en sy vrou is baie trots op hulle twee kinders. “Wat kan ek verder van my lewe sê? Ek kan dít sê: Glo in die Here, volg sy gebooie en Hy sal jou lewe vir jou bestuur. My hart is vol dankbaarheid.”
Werner Barnard van die Lions-klub op Reitz, waar onlangs die geldinsamelingsgeleentheid vir Len gehou is, beskryf Len as ’n ware gentleman.