Central SA
R31 by Barkly-Wes ondersoek ná drie ongelukke binne 24 uur─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:57 Mon, 07 Apr 2025

Die R31 word tans deur die Noord-Kaapse polisie ondersoek ná drie voertuigongelukke binne 24 uur wat gelei het tot een sterfgeval en veelvuldige beserings.
Dit laat groot kommer ontstaan onder plaaslike beamptes terwyl die plaaslike polisie nou die risiko’s evalueer wat met die R31-pad naby Barkly-Wes vereenselwig word ná die motorongelukke, sê lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder.
Die eerste van die drie ongelukke het Sondag (6/4) omstreeks 16:35 ongeveer 5 km buite Barkly-Wes naby Pniel plaasgevind. “(Die bestuurder van) ’n Isuzu-minivragmotor het glo beheer verloor, omgeslaan en van die pad af tot stilstand gekom. Albei insittendes het ernstige beserings opgedoen en is vinnig na die hospitaal vervoer vir mediese behandeling.”
Roekelose en nalatige bestuur
Kock sê ’n saak van roekelose en nalatige bestuur is in verband met dié voorval geopen.
Kort daarna, omstreeks 17:30, het ’n tweede botsing op die R31 naby Gong-Gong plaasgevind. ’n Audi-bestuurder het na bewering ’n BMW probeer verbysteek toe die motor met ’n vragmotor gebots het, sê Kock.
‘Audi-bestuurder is op die toneel dood’
“Die vragmotor het omgeslaan en in die middel van die pad tot stilstand gekom. Die bestuurder van die Audi is op die toneel dood verklaar. Die bestuurder van die BMW en die vragmotorbestuurder het verskeie beserings opgedoen en is na die hospitaal gehaas.”
Hy sê weens die erns van die botsing is die pad vir verkeer gesluit en Maandag (7/4) omstreeks 03:00 weer oopgemaak.
Barkly-Wes se polisie het ’n strafbaremanslag-ondersoek na hierdie voorval begin.
Derde ongeluk
Die derde voorval het Maandag omstreeks 05:30 ongeveer 15 km buite Barkly-Wes plaasgevind, sê Kock. “’n Stilstaande vragmotor, wat langs die pad onklaar geraak het, is deur ’n ander vragmotor getref. Die bestuurder van die stilstaande voertuig het uit sy vragmotor geklim ten tyde van die botsing.
“Die bestuurder sowel as die passasier van die tweede vragmotor het ernstige beserings opgedoen en is ook na die hospitaal geneem vir behandeling.”
’n Saak van roekelose en nalatige bestuur is in verband met dié ongeluk aanhangig gemaak. Beamptes het die pad Maandagoggend omstreeks 09:30 heropen ná die derde ongeluk.
‘Wees uiters versigtig in nat weerstoestande’
Kock sê die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting rakende hierdie ongelukke om na vore te kom.
Motoriste word aangemoedig om die plaaslike polisie by 082 458 9670 te nader met enige relevante besonderhede.
“In die lig van hierdie ongelukke, herinner die polisie motoriste om uiters versigtig te wees wanneer hulle in nat weerstoestande reis. Spoed moet vermy word, en bestuurders moet seker maak dat hul voertuie in ’n padwaardige toestand is voordat hulle op enige reis vertrek,” sê Kock.
OFM Nuus cg