Central SA
Rocking the Vaal verbeter drie Guinness-wêreldrekords─── ZENANDE MPAME 12:26 Sun, 30 Mar 2025

Die Goue Driehoek-kamer van koophandel in Vanderbijlpark het drie Guinness-wêreldrekords in net twee dae verbeter.
Die rekords wat tydens die Rocking the Vaal-fees by Emerald Resort and Casino verbeter is, sluit in die meeste mense wat gelyktydig brood breek, die grootste porsie kebabvleis en die grootste pot mieliepap.
Kinders van nege Vanderbijlparkskole en omliggende gebiede het Vrydag (28/3) hul plekke by langtafels ingeneem om deel te neem aan die uitdaging vir die meeste mense wat brood breek op dieselfde tyd. Die vorige rekord van 478 deelnemers is oortref toe 607 skoolkinders hul plekke by langtafels ingeneem het om aan dié uitdaging deel te neem.
“Ek het die poging beoordeel vir die meeste mense wat brood breek, dit was ’n bestaande rekord wat in 2019 in die VSA opgestel is,” het Guinness World Record-beoordelaar Mbali Nkosi gesê. “Die getal om te klop was 478 deelnemers.”
“En namens die Guinness World Records verskaf dit my groot plesier om aan te kondig dat die Goue Driehoek-kamer van koophandel die meeste mense gehad het wat brood by Rocking the Vaal in Maart 2025 gebreek het.”
Die rekord om die grootste pot pap te maak wat 12 000 mense sal voed, het ongeveer 2 t mieliemeel ingesluit wat gebruik is om ’n enorme pot mieliepap te maak, wat die huidige rekord van 1 t mieliemeel oortref het.
Om die grootste porsie kebabvleis te behaal, het 2 048 mense gelyktydig 2,4 ton vleis gebraai om ’n 3 km lange kebab te bedien wat die bestaande rekord van 2,047 km verbeter het.
2,048 mense het gelyktydig 2,4 ton vleis gebraai om ’n 3 km lange kebab voor te sit. Foto: Facebook/Rocking the Vaal
Verlede jaar het die Goue Driehoek-kamer van koophandel die vorige rekord van ’n 29 176 km-lange serp aangedurf. Dié rekord is verbeter nadat ’n serp van 35 574 km lank gebrei is.
Die geleentheid Saterdag (29/03) by die Emerald Resort and Casino het iets vir elke besoeker gebied. Van die musikante wat opgetree het, was Jo Black, Appel, Martin Bester, Ruhan du Toit, BlackByrd, Piesangskille, Dodo en Fatman.
Enige oorblywende kos is aan liefdadigheid geskenk.