On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta OFM
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Kimberley-moordverdagte dank weer regshulp af

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:55 Wed, 26 Mar 2025

Kimberley-moordverdagte dank weer regshulp af | News Article
Daniel Wilfred Alberts. Foto: X

Die Kimberliet wat daarvan beskuldig word dat hy twee polisiebeamptes vermoor het, se nuwe hofdatum sal eers vasgestel word nadat hy regsverteenwoordiging verkry het.

Daniel Wilfred Alberts (40) se hofsaak is Dinsdag 18 Maart weer uitgestel nadat hy sy regsverteenwoordiger van Regshulp SA vir die tweede keer afgedank het, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder. 

Alberts het die hof tydens sy hofverskyning op 23 Oktober ingelig dat hy nie langer die dienste van sy regsverteenwoordiger sal nodig hê nie en van voorneme was om homself te verteenwoordig.

Konst. Okaetse Mandindi (35) en sers. Kedimetse Masilo. Foto: SAPD

Die beskuldigde het egter daarteen besluit en daarop aangedring om private regsverteenwoordiging te kry. In latere verskynings het hy herhaaldelik vergeefs ’n bevel versoek om van die tronk na ’n bank geneem te word om geld te trek sodat hy ’n privaat prokureur kon aanstel.

Volgens Senokoatsane het Alberts op 10 Februarie in die hooggeregshof in Kimberley op die eerste dag van sy verhoor verskyn waar ’n prokureur van Regshulp SA hom verdedig het.

Tydens daardie verskyning het sy verdedigingspan meer tyd gevra om die forensiese sielkundige dr. Gerard Labuschagne te ondervra oor sielkundige verslae van die Noord-Kaapse psigiatriese hospitaal en om bloed- en urinetoetsuitslae te hersien wat tydens sy inhegtenisneming geneem is.

LEES OOK: Polisiemoorde in Kimberley: Hoës betoon laaste eer 

Alberts het die regsverteenwoordiger intussen afgedank. Hy staan tereg op twaalf aanklagte, insluitend moord, ontvoering, diefstal, roof, roof met verswarende omstandighede en roekelose bestuur. Die staat voer aan dat hy met voorbedagte rade opgetree het.

Op 10 Augustus 2023 het Alberts na bewering ’n Hyundai i10 vir R20 000 gehuur, maar nie daarvoor betaal nie en dit gehou tot sy inhegtenisneming.

Elf dae later, op 21 Augustus, het hy na bewering ’n skootrekenaar op Dewetsdorp gesteel. Die polisie het die gesteelde motor opgespoor, wat tot ’n jaagtog gelei het.

LEES OOK: Blitspatrollie-moorde: Beskuldigde wil homself in Kimberley-hof verteenwoordig

Alberts het gevlug en konst. Okaetse Mandindi (35) en sers. Kedimetse Masilo (45) van Kimberley se blitspatrollie het inligting opgevolg oor 'n gesteelde voertuig wat van Bloemfontein af kom, wat uiteindelik in Kimberley opgemerk is.

Alberts het toe na ’n Transnet-terrein gejaag, waar hy ná ’n botsing probeer vlug het. Toe die twee beamptes hom agternasit, het hy na bewering losgebrand en albei doodgeskiet. 

Hy is later die dag in Riverton in hegtenis geneem.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh 

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.