Central SA
Bloemfonteinse ma gevonnis ná sy dogter onder valse naam laat opneem─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:38 Sat, 01 Mar 2025

’n Bloemfonteinse ma wat haar dogter met die identiteit van haar ander dogter in ’n privaat hospitaal laat opneem het, is Donderdag (27/2) ’n opgeskorte vonnis opgelê.
Mamello Kate Khabo (48) is deur die Bloemfonteinse landdroshof aan bedrog skuldig bevind en tot vier jaar tronkstraf gevonnis, se lt.kol. Zweli Mohobeleli, Valke woordvoerder. Die vonnis is egter vir vyf jaar opgeskort, mits sy nie in daardie tyd ’n soortgelyke oortreding begaan nie.
Volgens Mohobeleli het Khabo die Staatsamptenare Mediese Skema (GEMS) van R438 674 bedrieg toe sy haar dogter in Augustus 2022 in die Busamed Privaat Hospitaal in Bloemfontein laat opneem het. Die pasiënt (32) is later na Mediclinic Bloemfontein oorgeplaas, waar sy twee weke later oorlede is. Die besonderhede rondom haar siekte is nie bekend gemaak nie.
‘Sy het vals inligting verskaf tydens haar oorlede dogter se opname’
Khabo, wat probeer het om haar dogter se dood te laat registreer en 'n doodsertifikaat uit te reik, het uiteindelik erken dat sy die identiteit van haar oorlewende dogter – wat ’n GEMS-begunstigde was – gebruik het toe sy die oorledene geregistreer het.
Mohobeleli het verder onthul dat die Valke se getuienis dwingend genoeg was om ’n lasbrief vir Khabo se inhegtenisneming te verseker en sy is op 12 November 2024 in hegtenis geneem. Sy is op borgtog van R2 500 vrygelaat toe sy later daardie maand in die hof verskyn het.
As gevolg van hierdie bedrieglike aktiwiteit het GEMS ’n totale verlies van R438 674,95 gely, met R43 159,95 wat aan Busamed en R395 515 aan Mediclinic Bloemfontein betaal is.
OFM Nuus cg