Central SA
Program stuit nie Orkney, ander dorpe se infrastruktuur-verval─── KEKELETSO MOSEBETSI 08:58 Thu, 27 Feb 2025

Ten spyte van die provinsiale regering se vlagskipprogram, Thuntsa Lerole, om dienslewering in Noordwes reg te ruk, sukkel inwoners van plekke soos Orkney se township, Kanana, en Mahikeng steeds met ernstige infrastruktuurprobleme.
Die program is twee jaar gelede bekendgestel om infrastruktuur te herstel en dienslewering te verbeter deur gekoördineerde samewerking tussen provinsiale departemente, munisipaliteite en staatsbeheerde instellings.
Dit moes gelei het tot die herstel van infrastruktuur, landbou-ondersteuning gebied het en maatskaplike dienste aan behoeftige gesinne gelewer het. Die provinsiale regering en munisipaliteite het voorheen gespog oor die program se welslae om dienslewering te verbeter.
Tog verkeer strate in middedorpe, voorstede en townships in ’n haglike toestand waar bestuurders met die hande in die hare sit weens slaggate. Infrastruktuur word steeds ná jare verwaarloos, wat gemeenskappe laat wanhoop.
In 2023 het rdl. Johannes le Grange, DA-koukusleier in Matlosana, onthul die munisipaliteit verloor daagliks miljoene rande weens finansiële wanbestuur. In November 2022, is 16 diensverskaffers gekontrakteer om infrastruktuurprobleme die hoof te bied, maar dit het tot stilstand gekom toe die geld binne ’n maand uitgeput was.
Die munisipaliteit het in die 2021/2022-boekjaar ’n verlies van R621 miljoen gely, ten spyte van pogings om ’n herstelplan te in te voer.
James Tsolela, destydse burgemeester, is verlede jaar geskors en deur Fikile Mahlophe vervang in reaksie op die finansiële krisis, wat vererger is deur wanbestuur en korrupsieskandale. Onlangse inhegtenisnemings van munisipale amptenare weens bedrog het die munisipaliteit se reputasie verder geskaad.
Opposisiepartye en politieke ontleders kritiseer die provinsiale regering se versuim om infrastruktuur- en diensleweringsprobleme doeltreffend te oorkom. Hulle meen hoewel programme soos Thuntsa Lerole goed bedoel is, kom die implementering daarvan aanspreeklikheid en toesig kort om blywende verandering te bewerkstellig.
Freddy Sonakile, DA-leier in die provinsiale wetgewer, beskryf dit as bloot ’n geldmaakskema vir ANC-meelopers.