On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Olifanteienaar en moordverdagte borg geweier oor verkeerde adres

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 05:30 Thu, 27 Feb 2025

Olifanteienaar en moordverdagte borg geweier oor verkeerde adres | News Article
Sonell Joubert is borgtog geweier. Foto verskaf

’n Olifanteienaar van Mpumalanga wat van ’n werknemer se moord aangekla word, is borgtog geweier omdat sy ’n foutiewe adres voorsien het en uit vrees dat sy kan inmeng met staatsgetuies.

Tonga-landdroshof in Mpumalanga het vroeër vandeesweek Sonell Joubert (45) se borgaansoek aangehoor, maar bevind die adres wat sy verstrek het, is ongeldig, sê Monica Nyuswa, provinsiale NVG-woordvoerder. Sy moes kragtens ’n hooggeregshofbevel van dié adres af verhuis het.

Die hof het beslis sy het dié bevel verontagsaam, sê Nyuswa. Boonop bestaan die gevaar dat sy staatsgetuies sal kan beïnvloed terwyl sy op vrye voet verkeer. Sy bly in aanhouding tot haar volgende hofverskyning op 27 Maart.

Joubert, eienaar van Tswale Educational Elephant Interactions, staan tereg op ’n aanklag van moord met voorbedagte rade nadat sy Jurgens Nel (45) vroeër vandeesmaand na bewering meermale met ’n mes in die bors en maag gesteek het.

Joubert se borgaansoek het twee weke gelede begin. Intussen het sy ’n nuwe regsverteenwoordiger aangestel. Marco Lamberti, haar nuwe prokureur, het versoek dat die hof die aansoek heroorweeg om toe te laat dat nuwe getuienis ingedien word.

Sonell Joubert (45). Foto: Facebook/Tswale Educational Elephant Interactions

Volgens Nyuswa het Joubert in haar beëdigde verklaring gesê dat sy uit selfverdediging opgetree het deur ’n mes te gebruik nadat Nel haar na bewering aangeval het. 

Sy het ook versoek dat die aanklag as ’n bylae 5-oortreding geklassifiseer word, nie bylae 6 nie, en het aangebied om haar paspoort in te dien.

Jurgens Nel. Foto: Facebook

“Joubert het ook in die hof aangevoer dat sy slegs R5 000 vir borgtog kan bekostig weens die koste om ’n nuwe prokureur aan te stel en traumaberading.

“Sy het voorgestel dat, indien borgtog toegestaan word, sy die Life360-toepassing sal installeer sodat die ondersoekbeampte voortdurend haar bewegings kan dophou.”

Tswale, Joubert se olifant, is Vrydag (21/2) van die plaas Lowhills na ’n veilige plek verskuif. Foto: Facebook/Tswale Educational Elephant Interactions

Intussen het Mpumalanga se toerisme-en-parkeagentskap (MTPA) bevestig dat Tswale, die olifant wat Joubert besit, Vrydag (21/2) van die plaas Lowhills na ’n veilige plek verskuif is. Die verskuiwing is uitgevoer kragtens ’n hofbevel deur die hooggeregshof in Mbombela wat MTPA opdrag gegee het om die dier van die eiendom te verwyder.

Tegniese kundigheid en finansiële steun vir die hervestiging is deur WeWild Africa, die Aspinall-stigting en Provet Wildlife Services gebied, sê Simphiwe Shungube, MTPA-woordvoerder.

Tswale is in kwarantyn in ’n veeartsenykundige instelling, waarna hy na ’n natuurreservaat oorgeplaas sal word “om vrylik saam met ’n trop olifante te leef”.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.