On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Verdagtes in moord op Bloemfonteinse oudlanddros doen dán aansoek om borg

───   ZENANDE MPAME 15:07 Fri, 07 Feb 2025

Verdagtes in moord op Bloemfonteinse oudlanddros doen dán aansoek om borg | News Article
Verdagtes in moord op Bloemfonteinse oudlanddros doen dán aansoek om borg. Foto verskaf

Die saak teen twee verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op ’n Bloemfonteinse oudlanddros is uitgestel tot Donderdag (13/2) vir ’n borgtogaansoek in die plaaslike landdroshof.

Letiscia Adams (41) en Jan Deal (51) het Donderdag (6/2) vlugtig in die hof verskyn op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en regsverydeling. Hulle bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning. 

Hulle is in hegtenis geneem vir die moord op Piet Bester (63), ook ’n eertydse stut vir die Vrystaat en Griekwaland-Wes.

“Die saak is uitgestel vir ’n borgtogaansoek ná dit voorheen uitgestel is vir borgtoginligting en konsultasie met hul regsverteenwoordiger,” sê Mojalefa Senokoatsane, Vrystaatse NVG-woordvoerder.

Volgens Netwerk24 is die saak uitgestel omdat Adams en Deal se regshulp op die laaste oomblik aan die saak onttrek het, aangesien hulle Bester persoonlik geken het.

Adams was Bester se huishulp en Deal sy tuinier op sy plaas in die Glen-omgewing by Bloemfontein. Hulle was albei langer as 17 jaar in sy diens.

Adams se kinders, Louma (24) en Sechaba (18), was weer Donderdag in die hof om uit te vind wat met hul ma gaan gebeur.

Letiscia Adams se twee kinders, Louma en Sechaba Adams. Foto: Zenande Mpame

“My ma se inhegtenisneming het ons familie geweldig ontstel en ons het baie vrae oor hoekom sy in hegtenis geneem is. Ons glo sy het dit nie gedoen nie,” sê Louma Adams, Letiscia se dogter.

Bester se liggaam is Sondag, 12 Januarie buite in sy huis in ’n plas bloed aangetref. 

“Die polisie vermoed hy is met ’n skerp voorwerp teen die kop geslaan, aangesien hy ’n wond bo sy oog gehad het,” sê kapt. Lorraine Earle, provinsiale polisiewoordvoerder.

OFM Nuus/Zenande Mpame mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.