Central SA
Boeties, niggie Saterdag gegroet ná ongeluk buite Bloemfontein─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:49 Wed, 29 Jan 2025
Die drie Bloemfonteinse leerders wat Vrydag hul lewe in ’n botsing op die N8 verloor het, word Saterdag ter ruste gelê.
Ryan Smit (6) is op slag dood, terwyl sy broer Ayden (8) later die dag in die Busamed-hospitaal gesterf het nadat sy hart twee keer gaan staan het. Hul niggie Leané van Papendorp is ook op die toneel dood verklaar.
’n Gedenkdiens is Dinsdag (28/1) by Primêre Skool Dr. C.F. Visser vir die drie jong oorledenes gehou. Ná die diens is drie roosbome ter nagedagtenis aan hulle geplant.
Yolandé en Martin Smit het albei hul seuns, Ayden (links) en Ryan, verloor. Foto: Facebook/Martin Smit
Martin Smit, die seuns se pa en bedryfsbestuurder van die Maselspoort-vakansieoord-en-konferensiesentrum, sê hy het ’n skyfievertoning geskep met die drie kinders, wat van kleins af onafskeidbaar was, mekaar se verjaarsdagpartytjies bygewoon het, saam skool toe gegaan het en nou saam gesterf het.
Die drie kinders, asook Tennique Joubert (6), was Vrydag op pad skool toe, toe ’n bakkie met ’n swaar gelaaide sleepwa omstreeks 07:00 met hul motor by ’n verkeerslig gebots het. Adri Jonck, Leané se ma, het die Chevy Spark bestuur waarin hulle was.
Jonck is die suster van Yolandé Smit, die seuns se ma. Sy is later die dag uit die Pelonomi-hospitaal ontslaan nadat sy ernstige beserings opgedoen het. Leané se pa, Herman van Papendorp, is ’n polisiebeampte op De Aar.
Die gedenkdiens fotos van die drie leeders wat Vrydagoggend in 'n gru botsing buite Bloemfontein oorlede is. Foto verskaf
Tennique is steeds in die hospitaal. Haar oupa, Cornelius Barry sê sy kleindogter is nie meer aan masjiene gekoppel nie en die dokters hoop sy sal vanself wakker word.
“Daar was ’n bietjie bloeding op die brein, maar die dokters sê dit is nie meer daar nie. Sy het steeds swelling op die brein en is aan ’n ventilator gekoppel. Sodra sy wakker word, sal die dokters die volgende stappe bepaal.”
Tennique Joubert. Foto: Facebook/Dr CF Visser Primêre Skool
Die begrafnis vind Saterdag om 11:00 in die NG Kerk Bloemfontein-Noord (Klipkerk) plaas, waarna ’n verassing gehou word.
Die polisie ondersoek die voorval en is besig om inligting, bewyse en spesialisverslae in te samel, sê kapt. Lorraine Earle, provinsiale woordvoerder. “Sodra dit afgehandel is, sal die dossier aan die direkteur van openbare vervolging voorgelê word vir ’n besluit, wat die volgende stappe sal bepaal.”
Herman van Papendorp en Adri Jonck met die foto van hul dogter, Leané. Foto: Charné van der Merwe
Sy vra mense moet die ondersoekspan kans gee om hul werk sonder bespiegeling te voltooi. “Dit is ’n sensitiewe saak, en ons doen ’n beroep op enigiemand met relevante inligting om na vore te kom (en dit met die polisie te deel),” het sy bygevoeg.
’n Saak van strafbare manslag is by die Navalsig-polisiekantoor geopen.