Central SA
Kimberley-vrou se dood in hospitaal ondersoek─── ZENANDE MPAME 11:25 Mon, 20 Jan 2025
Die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement is geskok oor die afsterwe van ’n vrou (22), wat van ’n balkon op die vyfde verdieping van die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal geval het.
Die polisie ondersoek die saak aangesien dit onduidelik is of Saterdag (18/1) haar eie lewe geneem het en of sy gestamp is. Sy is Dinsdag na die Kimberleyse hospitaal verwys vir verdere behandeling ná haar bevalling in ’n ander mediese instelling.
Die departement is “diep geskok oor hierdie tragiese voorval,” sê Lebohang Majaha, provinsiale gesondheidswoordvoerder. “Ons betuig ons opregte medelye met die familie ná die tragiese afsterwe van hul geliefde.”
Haar baba word in die hospitaal versorg en sal binnekort in die sorg van naasbestaandes geplaas word, sê hy. Die departement kan eers nadere besonderhede oor die oorledene bekendmaak wanneer die ondersoek afgehandel is.
Die hospitaal se kliniese span ontvang intussen berading.
“Die polisie … is ingelig oor ’n beweerde onnatuurlike dood by ’n hospitaal in Kimberley,” sê Noord-Kaapse polisiewoordvoerder Cherelle Ehlers. Toe beamptes by die hospitaal aankom, moes hulle hoor hospitaalpersoneel het reeds die toneel opgeruim.
“Ons het ’n geregtelike doodsondersoek geopen en die departement van gesondheid sal ook die saak ondersoek.”
Intussen eis naasbestaandes van ’n 18-jarige antwoorde nadat sy ernstige brandwonde opgedoen het terwyl sy glo met warm water gestoom het tydens ’n tradisionele seremonie in ’n plaaslike kerk.
Palesa Speelman het in ’n Kimberleyse hospitaal aan haar beserings beswyk ná die voorval in November.
Volgens die SAUK het Nontobeko Vilakazi, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, gesê dat hulle geen steen onaangeroer sal laat om te verseker dat diegene wat verantwoordelik is vir Palesa Speelman se dood, aanspreeklik gehou word nie.
Speelman het glo derdegraadse brandwonde opgedoen nadat sy beveel is om ’n kwartier onder ’n kombers te stoom.
“As die regering, saam met die polisie en die LUR vir veiligheid, sal ons verseker dat naasbetaandes berusting vind,” sê Vilakazi.