On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Sewe in hospitaal ná ongeluk op N1 by Edenburg

───   10:57 Thu, 09 Jan 2025

Sewe in hospitaal ná ongeluk op N1 by Edenburg | News Article
Nooddienspersoneel op die ongelukstoneel. Foto: X/Arrive Alive

Sewe pasiënte is in die hospitaal opgeneem ná ’n ongeluk op die N1 in die Suid-Vrystaat waarin ’n bakkie, motorvoertuig en vragmotor betrokke was.

Nog twee mense is op die toneel behandel ná die ongeluk Dinsdag (7/1) sowat 7 km suid van Edenburg. Ooggetuies op die toneel sê dit blyk asof die bakkie die motor van agter getref het, waarna die motor voor ’n aankomende vragmotor beland het. Die polisie moet nog dié bewering bevestig.

’n Silwer Toyota Vitz op sy dak in die veld. Foto verskaf

Arrive Alive deel beeldmateriaal op die sosialemediaplatform X van ’n paneelbordkamera wat wys hoe die vragmotorbestuurder swenk om die ongeluk te probeer vermy. Daarna wys dit ’n silwer Toyota Vitz op sy dak in die veld en ’n blou Ford-bakkie op die skouer van die pad. Die bakkie se skade dui op ’n trompop botsing.

Nooddienspersoneel was gou op die toneel en het sewe pasiënte na die Albert Nzula-hospitaal geneem. Nog twee wou nie hospitaal toe geneem word nie nadat hulle op die toneel behandel is. Die pad was tydelik vir aankomende verkeer gesluit.

Die regering se jaarlikse padveiligheidsprogram vir die feestyd het op 1 Desember begin en duur nog tot middel Januarie. Padsterftesyfers vir al die provinsie sal eers daarna bekendgemaak word, maar in die Wes-Kaap is tot die afgelope naweek reeds 122 padsterftes aangemeld en 202 in Gauteng.

Die Padverkeerbestuurskorporasie het intussen van 1 Desember tot 1 Januarie 7 448 bestuurders vir padoortredings aangekeer, waaronder dronkbestuur, spoedoortredings en pogings tot omkopery van wetstoepassers.

In die Wes-Kaap was amper die helfte (51) van die padsterftes voetgangers, van wie 21 hul lewe in tref-en-trap-voorvalle verloor het. Die meeste ongelukke was tot dusver op die N1, veral tussen 22:00 en 13:00.

‘Menslike faktore het ’n rol in amper 81% van ongelukke gespeel’

In Gauteng het spoed en dronkbestuur tot die meeste van die meer as 200 ongevalle bygedra; daarom vra dié provinsie bestuurders moet die padreëls gehoorsaam om nog sterftes te voorkom.

In die 2023/24-feestyd, waarvan syfers in Maart bekendgemaak is, het die meeste padsterftes in die eerste, derde en vierde week van Desember voorgekom, hoofsaaklik tussen 19:00 en 22:00. Dat die meeste noodlottige ongelukke op Sondae gebeur het, was ’n nuwe tendens.

Menslike faktore het ’n rol in amper 81% van ongelukke gespeel en omgewingsfaktore soos swaar neerslae en storms in net meer as ’n tiende. Minder as 9% van noodlottige ongelukke was weens probleme met voertuie.

Net ’n kwart van sterftes was die bestuurder, meer as 40% was voetgangers en ’n derde passasiers. Minder as 1% was fietsryers. Die meeste ongevalle was in die ouderdomsgroep 25 tot 44. Die landwye sterftesyfer van 1 184 van Desember 2023 tot Januarie verlede jaar was 2,3% minder as in die 2022/23-feestyd.

OFM Nuus/Christine van de Westhuizen cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.