On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Tiener van Meyerton se gesin raadop oor ‘swak behandeling’ ná fratsongeluk

───   21:42 Mon, 30 Dec 2024

Tiener van Meyerton se gesin raadop oor ‘swak behandeling’ ná fratsongeluk | News Article
Pearl Mellet het reeds twee operasies in Sebokeng-hospitaal ondergaan. Foto: BackaBuddy

’n Meisie van Meyerton wat ernstig beseer is in ’n fratsongeluk, se gesin is raadop met die swak behandeling wat sy in ’n staatshospitaal kry.

Pearl Mellet (12) het op 20 Desember op hul erf in die kleinhoewebuurt Bolton Wold rondgery op ’n 125 cc-putmotorfiets, wat sy met haar verjaardaggeld gekoop het, toe sy albei haar arms en bene in ’n fratsongeluk breek, het haar stiefma, Jessica Mommen-Mellet, aan Vaalweekblad gesê.

“Ons is nie presies seker wat gebeur het nie. Ons het net die motorfiets hoor ref, en toe jaag sy vorentoe in die muur vas.” Haar pa het agter haar aan gehardloop, maar kon haar nie betyds keer nie.

Die leerder aan die Laerskool Voorwaarts is na Kopanong-hospitaal in Vereeniging geneem. Nadat sy steke gekry het, is sy omstreeks 23:00 oorgeplaas na Sebokeng-hospitaal, ook in die Vaaldriehoek, vertel haar stiefma. Sy is eers laat die volgende middag in ’n saal opgeneem.

Die twaalfjarige is laatnag op 20 Desember na Sebokeng-hospitaal oorgeplaas, maar is eers laat die volgende middag in ’n saal opgeneem. Foto: BackaBuddy

Omdat die gesin nie tot ’n mediese skema behoort nie, kon hulle nie bekostig om Pearl in die Midvaal- privaat hospitaal te laat opneem nie. Hulle het intussen ’n BackaBuddy-insameling begin waarmee hulle van 20 Desember af reeds R19 200 van hul mikpunt van R100 000 ingesamel het.

“Ek het julle hulp nodig om vir Pearl die beste moontlik sorg te kry,” skryf Mommen-Mellet op BackaBuddy. Hulle wil haar steeds na Midvaal laat oorplaas. “Ek kan nie toekyk dat sy soveel pyn moet verduur nie. Ons moet haar regtig help om weer haar ou self te wees. Dis ’n lang pad wat voorlê.”

Pearl se arms is eers Dinsdag (24/12) geopereer en haar bene vier dae later, volgens haar stiefma weens ’n tekort aan bloed en suurstof. Sy moes twee bloedoortappings kry, maar dit bly ’n raaisel wanneer sy ooit ontslaan gaan word.

Sy was sewe dae in die hospitaal tot haar bene eindelik geopereer is. Foto: BackaBuddy

“Ons weet nie wat aangaan nie” sê haar stiefma. “Ons kry geen terugvoering nie. Ons kry net toestemmingsvorms om te teken. Geen verduideliking (nie).

“Ons weet nie of drade of penne in haar arms gesit is nie. As ons vir hulp of terugvoering vra, word daar vir ons gesê: Jy is nie ’n dokter nie, jy hoef nie te weet nie.” Boonop word die twaalfjarige en ander kinders in haar saal nie goed behandel nie, beweer Mommen-Mellet.

Al waaroor Pearl se gesin duidelikheid het, is dat sy twee prosedures ondergaan het. “Een dag sê hulle sy gaan huis toe en die volgende moet sy bly. Die verpleegsters doen nie hulle rondtes nie,” sê Mommen-Mellet. “Ek moet heeltyd vra dat hulle haar katetersakkie moet leegmaak en haar pleisters ruil.”

Dit gaan beter met Pearl, maar niemand weet wanneer sy ontslaan sal word nie. Foto: BackaBuddy

Pearl huil by tye van die pyn, vertel haar stiefma, “terwyl die verpleegsters op hulle fone sit en speel. Sy het haarself natgemaak omdat die kateter se pypie met die insit en uithaal gebreek is en toegeplak is eerder as om dit te vervang.”

Vaalweekblad het ’n woordvoerder van die hospitaal om kommentaar genader.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.