On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Gerben
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Vermeende dronkbestuurder hof toe ná botsing meisie (5) by Hartbeespoort eis

───   15:24 Thu, 26 Dec 2024

Vermeende dronkbestuurder hof toe ná botsing meisie (5) by Hartbeespoort eis | News Article
Die bestuurder van die Amarok is op die toneel in hegtenis geneem. Foto: SAPD

’n Bestuurder kom na verwagting Vrydag (27/12) voor in die landdroshof op Brits, Noordwes, ná ’n ongeluk waarin ’n vyfjarige haar lewe verloor het.

Die 29-jarige word aangekla van strafbare manslag en dronkbestuur nadat polisiebeamptes van Hartbeespoort haar omstreeks 18:00 op Kersdag (25/12) in hegtenis geneem het, sê kol. Adéle Myrbugh, Noordwes-polisiewoordvoerder.

Volgens die polisie se inligting was die verdagte agter die wiel van ’n swart Volkswagen Amarok toe die voertuig ’n ma en haar twee kinders in Simon Bekkerlaan naby Caribbean Beach Estate raakry. Paramedici het die vyfjarige op die toneel dood verklaar, sê Mybugh.

’n Vrou en haar baba is ernstig beseer en haar kleuter dood in die ongeluk by Hartbeespoortdam. Foto: SAPD

Haar babasussie, wie se ma (22) haar gedra het toe hulle getref is, is in ’n ernstige toestand in die hospitaal opgeneem, terwyl haar ma vir ernstige hoofbeserings behandel word. Luidens berigte was die impak van die ongeluk so groot dat die vyfjarige se arm van haar liggaam afgeruk is, berig die gemeenskapskoerant Kormorant.

Toe die vermeende dronkbestuurder se voertuig teen ’n muurtjie voor ’n ander landgoed tot stilstand kom, het gemeenskapslede glo op haar afgestorm nadat sy uitgeklim en na bewering probeer wegkom het, berig Kormorant

’n Ooggetuie beweer sy was onvas op haar voete. “Gemeenskapslede het haar terug na die ongelukstoneel gesleep. Gemoedere het hoog geloop. Sy is terug in die voertuig ingedruk en gemeenskapslede het bakstene deur die vensters gegooi. 

Die ma word op die toneel gestabiliseer voor sy hospitaal toe geneem is. Foto: Kormorant

“Sy het weer uitgekom en oor die pad gehardloop terwyl sy om hulp geroep het,” sê die ooggetuie. “Die skare het haar weer teruggesleep. Die situasie het handuit geruk, en veiligheidsbeamptes van die landgoed het met haar weggery in ’n gholfkarretjie tot die polisie opgedaag het.”

Die verdagte is terstond in hegtenis geneem en aangekla van bestuur onder die invloed van drank of ’n dwelmmiddel met ’n narkotiese effek asook strafbare manslag.

Nadat Hartbeespoort se nood- mediese dienste op die toneel na die ma en haar baba omgesien het, is die 22-jarige na die Ga-Rankuwa-hospitaal geneem en haar baba na ’n hospitaal in Rustenburg.

Dronkbestuurders, pasop

Motoriste word gewaarsku om nie dronk te bestuur nie, sê genl.maj. Patrick Asaneng, waarnemende provinsiale kommissaris. “Die polisie en ander wetstoepassers sal nie huiwer om die Verkeerswet toe te pas om te verseker dat met oortreders afgereken word as deel van padveiligheidsbestuur en optredes vir ’n veiliger feestyd.”

• Die regsfirma Burger Huyser sê wanneer ’n wetstoepasser vermoed ’n bestuurder het te diep in die bottel gekyk, mag hy besluit of hy ’n asemtoets wil gebruik.

“As jy aan ’n asemtoets onderwerp word of dit duidelik is dat jy onder die invloed is en jy bo die wettige limiet is, sal jy in hegtenis geneem word. Jy moet jou besonderhede aan die beampte verskaf. As jy vals inligting verskaf, sal nog aanklagte teen jou ingebring word.”

Gemeenskapslede drom saam om die voertuig wat in ’n ma en haar twee kinders vasgery het. Foto: Kormorant

Die polisiebeampte of ander wetstoepasser neem die vermeende dronkbestuurder dadelik na ’n aanhoudingsel. Hulle mag nog toetse by ’n alkoholtoetssentrum uitvoer. Kragtens Artikel 37 van die Verkeerswet mag ’n verdagte nie weier dat ’n bloedtoets uitgevoer word nie, maar hy of sy mag vra dat hul mediese praktisyn teenwoordig is.

Die verdagte mag ook vra om die verseëlde naald en spuit te sien wanneer die toets gedoen word.

As ’n mens weier dat bloed geneem word en die beampte stappe moet doen, sal ’n polisiebevel, bekend as ’n SAP308, uitgereik word. Hierdie vorm moet deur die beampte ingevul en dan aan die teenwoordige mediese praktisyn oorhandig word.

Dwarsboming van gereg

Die spesifieke vorm gee die mediese praktisyn opdrag om die alkoholvlakke te bepaal. As die mediese praktisyn die bevel ignoreer, kan hy of sy aangekla word van die dwarsboming van die gereg.

As ’n mediese praktisyn nie hierdie bevel ontvang het voor die ondersoek nie, kan dit as aanranding beskou word om bloed by die verdagte te trek.

OFM Nuus/Morné van Rooyen

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.