On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse vrou in hof oor beweerde Covid-bedrog

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:33 Wed, 18 Dec 2024

Vrystaatse vrou in hof oor beweerde Covid-bedrog | News Article
Die hof het borgtog aan Marinda Johanna Smith toegestaan. Foto: iStock

’n Vrystaatse vrou sal vroeg volgende jaar weer in die hof verskyn op aanklagte van bedrog en geldwassery waarby nagenoeg R600 000 betrokke is.

Marinda Johanna Smith (57) het Vrydag (13/12) in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn waar sy borgtog van R5 000 toegestaan is, sê lt.kol. Zweli Mohobeleli, Valkewoordvoerder. 

Smith is vroeër die dag deur die Valke in hegtenis geneem nadat ’n lasbrief vir haar inhegtenisneming uitgereik is. Sy word daarvan aangekla dat sy op ’n bedrieglike wyse namens 28 werknemers om geld van die tydelike werkgewer-werknemer-verligstingskema (Ters) by die departement van indiensneming en arbeid aansoek gedoen het en meer as R537 000 ontvang het.

“Ná verdere ondersoek deur die spesialisondersoekeenheid is bevind dat nie een van die werknemers wat op die aansoekvorms gelys is in diens van haar maatskappy, MJ Upholstery Free State (Edms.) Bpk., was nie.” Sy sal weer op 27 Januarie in die hof verskyn.

In ’n afsonderlike saak sal twee Bloemfonteinse direkteure weer op 6 Maart in die hof verskyn op aanklagte van bedrog, vervalsing, vals verklarings en geldwassery.

Tsolofelo Innocent August (39) en sy medebeskuldigde, Moemedi Seekoei (43), het Vrydag (6/12) in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn. Albei is borgtog van R10 000 toegestaan, het Fikiswa Matoti Valke-woordvoerder OFM Nuus gesê. 

Tsolofelo Innocent August (39). Foto verskaf

Die bewerings spruit uit onreëlmatighede in die toekenning van ’n tender vir die verwydering van afval van ondernemings in die Mangaung-metro. 

Die tender is aan twee maatskappye toegeken, waaronder dié van die verdagte, maar vervalste padwaardigheidsertifikate is na bewering gebruik vir die vragmotors wat die vullis sou verwyder.

Moemedi Seekoei (43). Foto verskaf

“Die metro het glo sowat R2,7 miljoen vir dienste aan die vermeende bedrieër betaal,” het Matoti gesê. 

“Die Valke is van die onreëlmatighede bewus gemaak wat gelei het tot twee lasbriewe vir die inhegtenisneming van albei direkteure. Donderdag is die eerste verdagte opgespoor en in hegtenis geneem.”

OFM Nuus dg/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.