On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Olebogeng
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Bultfonteinse boere weer in Februarie hof toe ná ‘aanranding’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:26 Tue, 10 Dec 2024

Bultfonteinse boere weer in Februarie hof toe ná ‘aanranding’ | News Article
André Janse van Rensburg (links) en Phillipus de Klerk buite die hof. Foto: OFM Nuus

Twee Vrystaatse boere wat daarvan aangekla word dat hulle twee beweerde voornemende plaasaanvallers aangerand het, sal na verwagting weer op 12 Februarie in die hof verskyn.

André Janse van Rensburg (54) en Phillipus de Klerk (46) het Dinsdag (10/12) voorgekom in die Bultfonteinse landdroshof op aanklagte van poging tot moord. Van Rensburg staan ook tereg op ’n aanklag van crimen injuria.

OFM Nuus het op 22 Oktober berig ’n groep mans het na bewering twee oortreders (28 en 33) vier dae tevore, in die vroeë oggendure, tydens ’n patrollie op ’n plaas in die distrik aangekeer.

Die Bultfonteinse landdroshof. Foto: Google Maps

Van Rensburg, ’n boer van Bultfontein en die plaaslike veiligheidsverteenwoordiger van Vrystaat Landbou, is op die dag van die voorval in hegtenis geneem en drie dae later op borgtog van R2 000 vrygelaat.

Crimen injuria

De Klerk het hom op 22 Oktober aan die polisie oorgegee en dieselfde dag in die plaaslike landdroshof verskyn, waar borgtog aan hom toegestaan is.

Polisiewoordvoerder kapt. Stephen Thakeng het vroeër gesê die groep het na bewering die twee verdagtes na die polisiekantoor gebring, maar dit was gesluit en die ligte was af. “Die twee oortreders het glo verskeie sigbare beserings gehad. Hulle hande is met kabelbinders geboei.”

Sigbare beserings

Volgens Thakeng het die polisiebeamptes wat destyds aan diens was, ’n klagte van crimen injuria aanhangig gemaak teen die groep wat by die beweerde aanranding betrokke was.

Intussen word die twee mans wat deur die boere in hegtenis geneem is, aangekla van betreding. Hulle is op ’n waarskuwing vrygelaat en sal na verwagting weer Woensdag voorkom.

OFM Nuus/Charné van der Merwe cg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.