On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Nadine
Listen Live Streams

Central SA

Twee Bloemfonteinse direkteure in hof weens beweerde bedrog

───   HEIDRÈ MALGAS 07:30 Sun, 08 Dec 2024

Twee Bloemfonteinse direkteure in hof weens beweerde bedrog | News Article
Twee maatskappye het die tender gekty, maar glo vervalste padwaardigheidsertifikate vir die vragmotors ingedien. Foto ter illustrasie

’n Direkteur van ’n private maatskappy en sy medebeskuldigde wat gebaseer is in Bloemfontein het Vrydag (6/12) voor die Bloemfonteinse landdroshof verskyn op aanklagte van beweerde bedrog, vervalsing, vals verklarings, en geldwassery.

Die saak is uitgestel tot 6 Maart 2025.

Tsolofelo Innocent August (39) en sy medebeskuldigde, Moemedi Seekoei (43), wat homself Vrydag (6/12) aan die Valke in Bloemfontein oorhandig het, is op borgtog van R10 000 elk vrygelaat.

August is Donderdag (5/12) deur die Valke in hegtenis geneem, het die woordvoerder Fikiswa Matoti gesê.

Tsolofelo Innocent August (39). Foto verskaf

Die beweringe spruit uit onreëlmatighede in die toekenning van ’n tender vir die versameling van handelsafval van besighede in die Mangaung-metro. Twee maatskappye, insluitend dié van die verdagte, is die tender toegeken, maar het glo vervalste padwaardigheidsertifikate vir die vragmotors wat gebruik sou word, ingedien.

Die metro het glo sowat R2,7 miljoen vir dienste aan die vermeende bedrieër betaal. Die Valke is van die onreëlmatighede bewus gemaak, wat gelei het tot twee lasbriewe vir die inhegtenisneming van beide maatskappye se direkteure. Donderdag is die eerste verdagte opgespoor en in hegtenis geneem,” het Matoti gesê.

Moemedi Seekoei (43). Foto verskaf

Die sukkelende munisipaliteit word lank reeds gekritiseer vir sy gebrekkige dienslewering.

Verlede jaar is meer as R200 miljoen in die metro belê om afvalbestuursprobleme op te los, en sowat 2 000 EPWP-vrywilligers is op kontrak vir 12 maande aangestel om die stad skoon te maak.

Nietemin, die metro word voortdurend deur opposisiepartye en inwoners gekritiseer oor die versuim om voldoende dienste te lewer.

OFM Nuus cg

 

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.