Central SA
Vermiste Bethlehem-tiener ná drie dae gevind─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:38 Tue, 26 Nov 2024
Die vermiste tiener van Bethlehem is gevind nadat sy vir drie dae nie van haar laat hoor het nie.
Chrismari Kriek (17) was op ’n plaas naby die dorp, sê haar pa, Christo Kriek. “Daar was geen sein op die plaas nie; daarom het sy nie kontak met iemand gemaak nie.”
Chrismari, ’n leerling aan die Bethlehem Voortrekker Hoërskool, is Saterdag (23/11) as vermis aangemeld.
Haar pa het vroeër aan OFM Nuus gesê sy dogter is Vrydag (22/11) omstreeks 21:30 laas gesien by die huis waar sy saam met haar ma, Mari Muller, wat op 16 Oktober aan ’n hartaanval oorlede is, gewoon het. Hester Pelser, wat ’n deel van die huis huur, was die laaste persoon wat Chrismari gewaar het.
Baie dankbaar
Volgens Kriek het hy sy dogter die laaste keer tussen 17:00 en 18:00 gesien. Hulle het planne gemaak dat hy haar Saterdag (2/11) ná werk sou kom haal het sodat sy by hom sou kom kuier.
“Toe ek by haar was, het sy gesê sy wil haar ma se besittings uitsorteer en wegpak. Ek het haar versoek gerespekteer en gedink Hester sal daar wees om haar dop te hou.”
Kriek egter die volgende dag ’n boodskap ontvang dat Chrismari nie by die huis is nie.
‘’n Lang pad van genesing lê voor’
“Ons is baie dankbaar dat sy weer terug is by die huis. Dit was ’n moeilike paar dae,” sê Kriek.
Kriek sê sy dogter is steeds baie emosioneel oor haar ma. Sy het waarskynlik ontvlugting gesoek, meen hy.
“’n Lang pad van genesing lê voor, maar ek glo dit kan van hier af net beter word.”