Central SA
Lewenslange tronkstraf vir Vrystater wat skoolkennis verkrag─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:24 Tue, 26 Nov 2024
Die NVG hoop die lewenslange vonnis wat aan ’n verkragter in die Vrystaat opgelê is, sal die slagoffer en haar naasbestaandes ’n gevoel van geregtigheid en afsluiting bied.
Pule Richard Motseu (24), ’n inwoner van Phahong, Bultfontein, is Maandag (25/11) deur die plaaslike streekhof tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy aan verkragting en roof met verswarende omstandighede skuldig bevind is, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder.
Sy slagoffer (22) het op 28 Mei verlede jaar omstreeks 22:00 saam met ’n vriendin na ’n taverne gestap toe Motseu hulle nader en van hul selfone en geld beroof.
“Die slagoffer se vriendin kon daarin slaag om te vlug terwyl Motseu die slagoffer aangerand het. Nadat hy haar beroof het, het Motseu haar met ’n vuurwapen gedreig en haar beveel om na ’n nabygeleë verlate huis te gaan,” sê Senokoatsane.
Selfone en geld gesteel
Die slagoffer is eers in die erf verkrag voordat hy haar na ’n buitetoilet gesleep het waar hy weer verkrag het. Motseu het hom uit die voete gemaak.
Die slagoffer het die misdaad die volgende dag by die polisie aangemeld en kon Motseu uitken, aangesien hulle saam skoolgegaan het. Motseu is daardie dag in hegtenis geneem. Hy moes in aanhouding gebly hangende sy vonnisoplegging aangesien borgtog nie toegestaan is nie.
Na buitetoilet gesleep en verkrag
“Tydens die verhoor het Motseu die bewerings ontken. Hy het beweer dat hy by sy suster se werkplek was ten tyde van die voorval en het gesê hoewel hy en die slagoffer saam op skool was, ken hy haar nie,” sê Senokoatsane
Die hof het egter die slagoffer se getuienis oor die identiteit van die beskuldigde aanvaar en Motseu se alibi verwerp. Hy is lewenslange tronkstraf opgelê vir verkragting en 15 jaar vir gewapende roof.
Die hof het ook beveel dat sy naam in die Nasionale Register van Seksoortreders geregistreer moet word.
OFM Nuus cg