Central SA
Seun (11) van Sasolburg sterk aan ná hy twee weke wag op operasie─── HEIDRÈ MALGAS 15:37 Mon, 25 Nov 2024
’n Seun van Sasolburg in die Vaaldriehoek sterk goed aan nadat hy eindelik op Meyerton geopereer kon word ná ’n twee weke lange, vergeefse gewag in ’n Bloemfonteinse staatshospitaal.
Divandré Jansen van Vuuren het sy arm Vrydag 8 November tydens skoolpouse op twee plekke gebreek. “Ons het hom Sasolburg-hospitaal toe geneem nadat hy geval het, aangesien die gesin nie mediese versekering het nie,” vertel sy ouma Claudette Gouws.
“Die dokter daar het X-strale geneem en gesê dat sy arm ernstig gebreek is. Hulle het hom toe met ’n ambulans na Bloemfontein gestuur, waar hy twee weke sonder enige vordering gebly het.”
Sy vertel ’n vriend van Divandré se ouers, Christel en Merchant Du Preez, het ’n BackaBuddy-veldtog begin om geld in te samel sodat hy Pelenomi kon verlaat en eerder in die Midvaal- Privaat Hospitaal geopereer kon word.
Leh-André Jansen van Vuuren met haar haar seuns, Divandré (nou 10) en Lorenzo nou (7). Foto: Vaalweekblad
“Hulle het die dokters, die BackaBuddy, alles gereël. Hulle het hom baie gehelp,” sê Gouws.
Terwyl Divandré byna twee weke lank in Pelenomi in Bloemfontein was, is sy ma, Leh-André Jansen van Vuuren (31), vir kankerbehandeling opgeneem in Universitas-hospitaal, ook in die Vrystaatse hoofstad.
“Divandré is deur ’n fantastiese dokter in Midvaal geopereer, wat dit kosteloos gedoen het. Die enigste koste was die oornagverblyf in die hospitaal vir waarneming,” vertel Gouws.
“Dit was ’n swaar stryd om die operasie te kry; daar was baie geldsinsamelings wat gehelp het om dit moontlik te maak.” Die prosedure het dringend geraak omdat die gebreekte bene reeds begin vasgroei het.
Leukemia is in Junie verlede jaar by Leh-André gediagnoseer. Foto Vaalweekblad
Sy sê hy is Maandag (25/11) ontslaan en sal tuis aansterk.
Leukemia is verlede jaar in Junie by Leh-André gediagnoseer. Haar stiefma, Gouws, sê dit het ’n jaar lank goed gegaan, maar Maandag 11 November, toe sy vir haar opvolgondersoek by Universitas gaan, het die dokter gesê die kanker het teruggekeer.
Harde slag
“Hulle het nou met ’n aggressiewe chemoterapie begin. Sy het reeds die eerste ses sessies voltooi en moet nou ’n bietjie rus. Daarna wil hulle begin met ’n baie effektiewe chemoterapie wat na raming R180 000 kos.”
“Dit is ’n harde slag vir ons familie. Ons is baie hartseer saam met haar en kan net probeer om sterk te bly.”