Central SA
Ondersoek ná ongeluk in Noordwes kolonel, kandidaat eis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:48 Mon, 25 Nov 2024
’n Polisiesersant en twee voornemende polisielede word in die hospitaal vir ernstige beserings behandel ná ’n motorongeluk buite Mahikeng wat ’n sersant en ’n ander kandidaat se lewe geëis het.
Die ongeluk waarin ’n polisievoertuig met ’n ander motor gebots het, het Sondag (24/11) omstreeks 22:30 op die R503 naby Rooigrond by Mahikeng plaasgevind, sê kol. Amanda Funani, Noordwes-polisiewoordvoerder.
“Die twee polisiebeamptes en drie kandidate in ’n Toyota Quantum-polisievoertuig was na Mahikeng onderweg nadat die kandidate mediese toetse in Potchefstroom ondergaan het.” Die polisievoertuig het glo teen ’n Volkswagen Polo gebots wat na Lichtenburg op pad was.
Ompabaletse Kalamore (28), een van die kandidate, is op die toneel dood verklaar, terwyl kol. Lucas Sekhwela (32) met aankoms by die hospitaal gesterf het.
Ompabaletse Kalamore. Foto Facebook
“Die sersant en twee ander kandidate is ernstig beseer en is saam met die bestuurder van die Polo in die hospitaal opgeneem,” sê Funani. “Hulle is steeds in die hospitaal.”
Facebook-gebruikers betuig intussen hul meegevoel met die slagoffers se naasbestaandes. Kalamore se broer, MK Thibax, sê hy het soveel geluk en lig in hul lewe gebring. “Sy afwesigheid laat ’n leemte wat nie gevul kan word nie.”
Intussen is niemand nog twee jaar ná die moord op twee Koffiefontein-polisiebeamptes in die Suid-Vrystaat in hegtenis geneem nie.
Konstt. Obert Boitumelo Mekoa en Mzonani David Manjo (32) is die oggend van 29 Junie 2017 dood aangetref deur hul kollegas in ’n gemeenskapsdienssentrum, het Lynda Steyn, Vrystaatse Valke-woordvoerder, destyds aan OFM Nuus gesê.
Beloning aangebied
“Die beamptes is geskiet terwyl hulle aan diens was, en ’n dienspistool, wat aan een van hulle behoort, is gesteel.” Mekoa is in die kop geskiet, terwyl Manjo in die rug en kop geskiet is.
’n Beloning is aangebied vir inligting wat tot ’n inhegtenisneming kan lei.