Central SA
Stryd teen geblikte leeus ‘verbloem staat se mislukkings’─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:25 Thu, 21 Nov 2024
Die regering se jongste poging om ’n einde te bring aan die kommersiële leeubedryf, wil die aandag aflei van sy swak rekord in die bestuur van wildbevolkings, veral leeus.
Die departement van bosbou, visserye en omgewing met dié kennisgewing “voorgee” dat hy proaktief optree. “Die realiteit is egter dat die regering met hierdie kennisgewing sy eie mislukkings probeer toesmeer,” sê Richard York, Wildlife Ranching South Africa se uitvoerende hoof.
Dr. Dion George, minister van omgewing, bosbou en visserye het Vrydag (15/11) ’n kennisgewing in die Staatskoerant gepubliseer waarin hy vra dat leeuboere alle geraamtes, bene, kloue, tande, trofeë en velle van geblikte leeus aan die staat oorhandig.
Die minister het opnuut ’n beroep op leeuboere gedoen om die bedryf vrywillig te verlaat. Boere wat nog leeus aanhou, moet hulle laat steriliseer.
Foto iStock
York meen George se uitlatings teenoor die SAUK dat Suid-Afrika “genoeg leeus in die natuur het”, ignoreer die krisis waarin die land se leeus hulle bevind.
“Dit is al langer as twee dekades bekend dat die leeus in die Krugerwildtuin met beestuberkulose besmet is,” sê York. “Hierdie stadige, wrede epidemie saai verwoesting onder (ons) wilde leeus, terwyl daar geen sinvolle ingryping van die staat is om die diere te red nie.”
Hy meen George se eie erkenning dat die land “sukkel met implementering”, bewys die staat “misluk chronies” om wildbevolkings te bewaar. Die minister se stelling dat leeus wat in aanhouding geteel en aangehou word, nie in die natuur vrygelaat kan word nie omdat hulle “geneties verskillend” is, is volgens hom onwaar.
‘George glo hulle is geneties besmet en verlam en in pyn’
“Volgens dr. Paul Booyens se navorsing is leeus wat in aanhouding geteel word dikwels vry van siektes en kan in die natuur vrygelaat word. George skep ’n prentjie van leeus in aanhouding, deurdat hy glo hulle is geneties besmet en verlam en in pyn.”
York gee toe sommige leeutelers moet ondersoek word, maar baie telers gaan eties te werk.
“Organisasies soos die Suid-Afrikaanse Roofdiertelersvereniging onderskryf streng etiese standaarde waaraan sy lede moet voldoen.”
Foto iStock
Die Biodiversiteitsbestuursplan vir Afrikaleeus wat in 2015 in die Staatskoerant gepubliseer is, was daarop gemik om wilde leeus te bewaar en diegene wat in aanhouding is te bestuur. “Hierdie doelwitte is nooit bereik nie.”
Dit is kommerwekkend dat die taakspan – wat destyds deur oudmin. Barbara Creecy aangestel is – wil geen inligting bekend maak nie, beweer York. Intussen is geen bewaringsbeleid vir leeus in aanhouding tot dusver in werking gestel nie.
In reaksie op George se bewerings dat daar “baie oorleg gepleeg is” oor die sluiting van die bedryf, het York gesê sy organisasie moes ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting indien om duidelikheid oor die aktiwiteite en bevindings van die ministeriële taakspan te probeer kry.
Foto iStock
“Ons het nog geen antwoorde in hierdie verband ontvang nie. WRSA het geen ander keuse gehad as om ’n klag teen die departement by die nasionale inligtingsreguleerder in te dien nie.”