On Now
Weekends 20:00 - 23:59
The Music Man Mix The Music Man
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Brooklyn na Bloemfontein: Die groot kompetisie tussen motor en vliegtuig

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:10 Thu, 21 Nov 2024

Brooklyn na Bloemfontein: Die groot kompetisie tussen motor en vliegtuig | News Article
Van links na regs, Lloyd Chapman, Ulrich van Heerden, Hardus Potgieter. Foto verskaf

Wat is die vinnigste pad van Brooklyn na Bloem: padlangs of deur die lug?

Dié vraag word Saterdag (23/11) beantwoord deur Ulrich van Heerden, ’n avontuurlustige inwoner van Pretoria, en sy swaer Attie van den Berg.

Die twee het hieroor begin wonder terwyl hulle vakansie gehou het in Ballito aan KwaZulu-Natal se noordkus saam met ’n vriend, Lloyd Chapman. Terwyl hulle bespreek het watter vervoermiddel – motor of vliegtuig – die vinnigste oor ’n sekere afstand sou wees, kon hulle nie saamstem nie.

“Brandewyn het altyd beter planne,” lag Ulrich, “en dit is toe dat ek hom uitgedaag het om dit van Pretoria tot Bloemfontein te toets.”

‘Vyf lugspanne en vyf padspanne’

En so het die Brooklyn na Bloem-uitdaging ontstaan.

’n Groep van 20 vriende sal aan die wedren deelneem, verdeel in vyf lugspanne en vyf padspanne.

Die deelnemende voertuie wissel van gesofistikeerde sportmotors soos ’n Porsche tot betroubare veldryvoertuie soos Land Cruisers en Prado’s. Die vliegspanne sal sewe klein, privaat vliegtuie gebruik wat elk vier tot ses mense kan vervoer.

Die logo. Foto verskaf

Die reëls is eenvoudig: Alle spanne sal Saterdag om 08:00 vanaf Ulrich se huis in Brooklyn wegspring. Die lugspanne moet eers Wonderboom-lughawe toe ry, hul vliegtuie voorberei en dan na Bloemfontein opstyg. 

Nadat hulle in Bloemfontein geland het, moet hulle vir parkering betaal, ’n motor huur en na Safari Outdoor Bloemfontein toe ry. Intussen sal die spanne in die motors direk na Bloemfontein ry en net vir brandstof stilhou, indien nodig.

Foto: Facebook/Safari Outdoor

Die wedren word gewen deur die span wat eerste by die opening van die nuwe winkel aankom.

“Daar is niks op die spel nie, net spogregte,” vertel Van Heerden, maar die geleentheid dien ’n groter doel. Elke deelnemer dra R1 000 by, wat aan ’n kinderhuis geskenk sal word.

Die wenspan kan kies watter kinderhuis die skenking ontvang. Albei spanne het egter reeds ’n weeshuis in gedagte vir die skenking.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.