On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Carletonville-peuter sterk goed aan ná chemoterapie

───   ZENANDE MPAME 15:34 Mon, 11 Nov 2024

Carletonville-peuter sterk goed aan ná chemoterapie   | News Article
Damian Steyn. Foto verskaf

’n Peuter van Carletonville sterk goed aan nadat hy intensiewe chemoterapie in Pretoria ondergaan het.

Nadat hy met leukemie gediagnoseer is, het Damian Steyn (2) op Maandag (4/11) chemoterapie in sy ruggraat gekry.

’n Oor-neus-en-keelspesialis het ook gehoorverlies by Damian gevind. “Ons dink dit is die rede waarom hy nog nie kan praat nie,” sê Monique Steyn, sy ma.

“Die chemoprosedure in sy ruggraat het baie goed verloop. Hy het nou chemopille wat hy by die huis moet neem. Meeste van die tyd voel hy goed, maar hy raak soms gefrustreerd. Hy ervaar ook newe-effekte van die chemo, wat ongemak veroorsaak.”


Damian was vir meer as ses maande siek voordat hy in Julie met kanker gediagnoseer is. Hy is vir drie maande behandel en neem nou drie keer per week chemopille.

Die jong pasiënt en sy ma reis gereeld na die kindershospitaal in Pretoria, waar hulle vir weke op ’n slag bly, weg van sy broers, Raiden (6) en Tristan Steyn (4). Ma en seun sal die hele Desember in Pretoria deurbring vir nóg chemoterapie.

“Ons is dankbaar vir elke dag wat God ons seën om saam as ’n gesin te wees. Damian se siekte en behandeling het my op maniere verander wat ek nie ten volle kan beskryf nie.

“My geloof is sterker as ooit. Ek het geduld soos nooit tevore nie. Ek het geleer om in die oomblik teenwoordig te wees, om net te wag.”

Damian sal op Maandag 2 Desember na die hospitaal terugkeer vir chemo, verdere toetse, en om ’n oor-neus-en-keelspesialis te sien.

“Die reise van Carletonville na Pretoria is baie duur, en ons moet steeds vir die hele gesin sorg.” Sy sê enige geldelike hulp sal welkom wees, veral aangesien een van haar ander kinders aan asma ly.

OFM Nuus/Zenande Mpame mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.