Central SA
Voedselvergiftiging by skole: Dringende ingryping geëis─── HEIDRÈ MALGAS 12:16 Mon, 11 Nov 2024
Die vlaag voorvalle van voedselvergiftiging by skole kan toegeskryf word aan eetgoed wat straatverkopers rondom dié instellings verkoop.
Hierdie voorvalle het ’n nasionale debat ontketen oor die regulering en veiligheid van voedsel wat in hierdie informele sektor verhandel word. Nou word nuwe maatreëls oorweeg om die regulering en werking van hierdie winkels en verkopers beter te beheer.
“Spazawinkels is tipies winkels wat nie behoorlik gereguleer en bestuur word nie,” sê André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit. “Daarom probeer politici nou dringend wette opstel” om te verseker dat die produkte wat hulle verkoop, van ’n aanvaarbare gehalte is.
‘Dit is plekke waar ons gereeld xenofobiese tendense sien’
“Ons is bewus daarvan dat daar geweldige spanning bestaan, veral in hoëdigtheid-omgewings, wat meestal vroeëre swart woonbuurte is, waar buitelanders aktief handel dryf.
“Dit is plekke waar ons gereeld xenofobiese tendense sien. Die buitelanders word dikwels aangeval; hul winkels word soms geplunder en geroof, wat kan lei tot verdere gewelddadige reaksies.”
Pilletjies is blykbaar in die peuselhappies gevind wat die leerders by ’n skool in Welkom geëet het. Foto: Facebook
Die onrus waarby buitelanders betrek word, is die gevolg van hierdie spanning. Dit vuur vyandigheid verder aan tussen tradisionele inwoners van Suid-Afrika en immigrante wat handel dryf en ekonomiese geleenthede oorneem.
Maar dis geensins ’n unieke probleem aan Suid-Afrika nie, beklemtoon hy, maar ’n wêreldwye tendens, hoewel xenofobiese tendense hier opvallend sterk voorkom. “Ek dink wat ons situasie uitsonderlik maak, is die sterk voorkoms van xenofobiese tendense. Dit groei in momentum en word dikwels vanuit gemeenskappe self gedryf, of ten minste vanuit sekere groeperinge in die politieke omgewing bestuur en hanteer.”
Straatverkopers het werkgeleenthede vir hulleself geskep omdat werk in Suid-Afrika skaars is, ongeag die soms moeilike omstandighede. Die reg en verkeerd van hierdie praktyk kan bespreek word, meen Duvenhage, “maar die feit bly staan dat daar soortgelyke geleenthede vir Suid-Afrikaanse burgers bestaan.
“Tog maak hulle nie altyd gebruik hiervan nie, want ons weet dat Suid-Afrikaners nie altyd bereid is om in moeilike omstandighede te werk nie. Baie van (ons) maak eerder staat op maatskaplike toelae.”
Volgens statistieke ontvang ongeveer 28 miljoen van die tussen 42 en 64 miljoen mense in Suid-Afrika maatskaplike toelae. Hierdie situasie skep geleenthede vir buitelanders wat elders op die vasteland swaarkry om hier ’n bestaan te kom voer.
“Ek dink nie straatverkopers sal kan oorleef as hulle moet ophou met hul verkope nie, ook nie hul verskaffers nie. Hul omgewing laat hulle dikwels nie toe om werklik aan alle vereistes te voldoen nie, en baie … beskik nie oor die nodige dokumentasie en produkte om wettig handel te dryf nie.”