On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Drie in hof weens moord op jong Noordwes-plaasbestuurder

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:02 Mon, 11 Nov 2024

Drie in hof weens moord op jong Noordwes-plaasbestuurder | News Article
Ian Boshoff. Foto: Facebook

Drie mans kom na verwagting Maandag (11/11) voor in die Potchefstroomse landdroshof in verband met die moord op ’n jong plaasbestuurder.

Die drietal is Donderdag in ’n operasie in die township Ikageng in hegtenis geneem, sê brig. Sabata Mokgwabone, Noordwes-polisiewoordvoerder.

Ian Boshoff (32) is op 25 Oktober by Snymanshof Lodge in Buffelshoek, Noordwes, vermoor. Hy het dié lodge, halfpad tussen Potchefstroom en Vereeniging, bestuur.

OFM Nuus het vroeër berig ’n buurman het Saterdag (26/10) op Boshoff se liggaam in ’n plas bloed afgekom. Hy het ondersoek ingestel nadat hy hom nie in die hande kon kry nie. “Hy het op sy rug gelê met verskeie skietwonde en is op die toneel dood verklaar,” het kol. Adèle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder, kort ná die moord gesê.


Volgens Mokgwabone het polisiebeamptes tydens die inhegtenisneming op drie vuurwapens beslag gelê, waarvan twee tydens die inbraak en roof gebuit is, en een wat in die pleging van die misdade gebruik is.

‘Hulle was vermoedelik by nog ’n inbraak in die omgewing betrokke’

“Die verdagtes het met Boshoff se voertuig, twee vuurwapens, gereedskap en verskeie huishoudelike items op die vlug geslaan.” Hulle was vermoedelik voor of ná die voorval by nog ’n inbraak in die omgewing betrokke.

“Om die verdagtes op te spoor, het die ondersoekspan ywerig gewerk om gesteelde en geroofde items terug te kry, insluitend ’n noodwiel, klere, kampstoele, komberse, twee beddens, matte, 15 patrone, ’n haelgeweer en een geweer,” sê Mokgwabone.

Die verdagtes (tussen 33 en 42) staan tereg op aanklagte van huisbraak, moord, diefstal van ’n gesteelde voertuig, besit van vermoedelik gesteelde goedere en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

OFM Nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.