On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Miss Teen Universe 2024 maak debuut in Kimberley

───   HEIDRÈ MALGAS 11:09 Sun, 10 Nov 2024

Miss Teen Universe 2024 maak debuut in Kimberley | News Article
Esther Bayeye van Suid-Afrika is as die eerste prinses gekroon. Foto: Instagram

Die kroning van die Miss Teen Universe 2024-skoonheidskompetisie was ’n eerste vir die stad Kimberley én Suid-Afrika.

Suid-Afrika se skoonheid is as die eerste prinses gekroon, terwyl Mej. Indië as die algehele wenner in die Stad van Diamante gekroon is.

Esther Bayeye (18) van Vorna Valley, Midrand, is as die eerste prinses aangewys, en Trishna Ray van Indië is gekroon as Miss Teen Universe 2024.

Die geleentheid het Saterdag (9/11) in die Mittah Seperepere Konvensiesentrum in Kimberley plaasgevind en dit was die sesde kroning van Miss Teen Universe, wat vir die eerste keer in Suid-Afrika aangebied is.

Trishna Ray van Indië is Miss Teen Universe 2024. Foto: Zenande Mpame

Deelnemers van regoor die wêreld was vir twee weke in die Noord-Kaap. Die wenner stap weg met ’n elektriese motor, ’n kontantprys, velsorgprodukte vir die jaar, en ’n reis na Kaapstad.

Die geleentheid het ’n talentkompetisie, ’n nasionale kostuumkompetisie en liefdadigheidsaktiwiteite vir nie-winsgewende organisasies (NWO’s) regoor Kimberley ingesluit. Die skoonheidskompetisie sou na verwagting ook plaaslike entrepreneurs bevoordeel en tydelike indiensneming skep.

Esther Bayeye (18) van Vorna Valley, Midrand, is as die eerste prinses gekroon. Foto: Instagram

’n Stigting in Kimberley, begin deur die tiener Unamandla Vilakazi (16), het die internasionale skoonheidskompetisie vir tienermeisies van meer as 40 lande in Suid-Afrika aangebied.

Die Unamandla-Isagoentle Stigting is in 2022 deur Vilakazi gestig en is ’n NWO wat daartoe verbind is om positiewe gedragsverandering in skole te bevorder onder die vaandel van ’n positiewe ingesteldheid vir ’n positiewe toekoms.

Die stigting poog om ’n omgewing te skep waar leerders van diverse agtergronde, veral diegene wat deur die uitdaging van armoede in die gesig gestaar word, ’n positiewe uitkyk kan ontwikkel en hul toekoms kan verbeter.


“Die visie agter die stigting is om ’n positiewe ingesteldheid by jong mense te vestig, hulle te bemagtig om hindernisse te oorkom en hul volle potensiaal te bereik. 

“Die vennootskap met Miss Teen Universe om die internasionale skoonheidskompetisie aan te bied, strook met hierdie visie deur ’n platform te bied vir jong vroue om hul talente, intelligensie en betrokkenheid by positiewe verandering te vertoon,” het Vilakazi gesê. 

“Die skoonheidskompetisie dien as ’n voertuig vir die bevordering van kulturele uitruiling, leierskap en gemeenskapsbetrokkenheid wat strook met die stigting se missie om die jeug te inspireer en op te hef.”

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.