Central SA
Ondersoekers slaan toe op JB Marks weens tenderbedrog─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:47 Thu, 07 Nov 2024
Die ondersoek na grootskaalse tenderbedrog in JB Marks-munisipaliteit gaan volstoom voort nadat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) op dokumente beslag gelê het in die munisipale kantoor in Potchefstroom.
Die SOE ondersoek ernstige bewerings van wanadministrasie rakende die verkryging van goedere, werke en dienste vir die bou van ’n vloedlynkanaal by Ikageng Uitbreiding 11 langs die N12.
Lede van die eenheid, die Valke en polisie het Donderdag (7/11) toegang tot die kantoor verkry om bewysstukke te bekom. Die Potchefstroomse landdroshof het Woensdag (6/11) magtiging aan die SOE gegee om die perseel te deursoek en om beslag te lê op dokumente wat met die ondersoek kan help.
Wetstoepassers het Wolmaransstraat versper terwyl die spesiale ondersoekeenheid, Valke en polisie op die munisipale kantoor toegeslaan. Foto: Potchefstroom Herald
Die beweerde korrupsie behels onder meer ongerymdhede met die toewysing en besteding van geld vir kapitaalprojekte en die opgradering en instandhouding van munisipale infrastruktuur. “Verskeie senior bestuurslede in die munisipaliteit word (hierby) betrek,” sê VF Plus-raadslid Matthys van Tonder.
Die soek-en-beslagleggingsproses volg ná herhaalde onsuksesvolle versoeke vir die munisipaliteit om die nodige dokumente vrywillig aan die SOE te oorhandig.
Die SOE het stapels dokumente by die munisipale kantoor uitgedra. Foto: Potchefstroom Herald
Die ondersoek word uitgevoer kragtens Proklamasie 196 van 2024, wat die SEO bemagtig om ernstige bewerings van wanadministrasie te ondersoek. Sedert die proklamasie op 4 Oktober 2024 van krag geword het, het die SOE verskeie pogings aangewend om die saak op te los sonder om tot regstappe oor te gaan.
OFM Nuus/Charne van der Merwe