On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Verdagtes aangekeer ná aanval op Bloemfonteinse student

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:41 Thu, 07 Nov 2024

Verdagtes aangekeer ná aanval op Bloemfonteinse student | News Article
Die aanvallers se voertuig. Foto: Skermgreep

Die twee mans wat op video vasgevang is waar hulle na bewering ’n student helder oordag in Universitas oorval en beroof het, kom na verwagting Vrydag (8/11) voor in die Bloemfonteinse landdroshof.

Die verdagtes is Woensdag (6/11) deur beamptes van Parkweg se misdaadvoorkomingseenheid in samewerking met die ondersoekspan in hegtenis geneem, sê ao. Mahlomola Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Die voorval het Saterdag (3/11) omstreeks 06:00 plaasgevind toe die twee verdagtes (24 en 32) na bewering die slagoffer (20) aangerand en beroof het.”

In ’n video wat op Facebook versprei is, kan gesien word hoe twee mans een ná die ander uit ’n donkergrys Mazda te voorskyn kom en die slagoffer aangerand word. Hy was te voet onderweg in John Knoxstraat, Parkwest.

Volgens Kareli het die verdagtes die slagoffer na bewering gepootjie en twee selfone gesteel wat uit sy sak geval het. “Die verdagtes het in hul motor gespring en weggejaag. Die slagoffer het die bestuurder se deur gegryp, maar sy houvas verloor en weer geval.”


Die polisie het ’n wenk ontvang oor waar die verdagtes woon.

“Die een is in Bloemanda opgespoor nadat hy sy huis met ’n sak vol klere verlaat het, terwyl die tweede verdagte by Hostel 1 in Bloemfontein aangekeer is.”

Volgens Kareli probeer die polisie nog om die gesteelde fone terug te kry. Die voertuig wat in die rooftog gebruik is, is intussen in die omgewing van die Bloemfonteinse township Kgotsong gevind.

‘Die slagoffer is ontslaan en sterk tuis aan’

“Albei verdagtes staan tereg op aanklagte van poging tot moord en gewone roof, met verdere ondersoeke wat nog aan die gang is.”

Die slagoffer is in die hospitaal behandel, maar hy is sedertdien ontslaan en sterk tuis aan.

Studente wat in gevaar verkeer, kan hier hulp kry:

  • Beskermingsdienste: 051 401 2911
  • Buitekampuskoppelingsbeampte: 078 960 4165
  • Excellent Sekuriteitsdienste: 061 869 0103
  • Studenteberading en ontwikkeling: 051 401 2853

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.