Central SA
Twee van Bloemfontein in hof weens dwelms, wapens─── CHARNÉ VAN DER MERWE 06:30 Mon, 04 Nov 2024
Twee verdagtes wat die naweek vir verskeie oortredings in hegtenis geneem is, sal na verwagting Maandag (4/11) in die hof verskyn.
Die verdagtes (19 en 23) is Vrydag in die Bloemfonteinse middestad aangekeer vir die besit van 'n ongelisensieerde vuurwapen en dwelmhandel, sê sers. Sinah Mpakane, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
“Lede van Peloton 10 het Vrydag misdaadvoorkomingspligte in die Bloemspruit-omgewing uitgevoer toe hulle omstreeks 01:00 ’n wenk ontvang het oor ’n Toyota Yaris wat gebruik is rooftogte in ’n klein straatjie in die middestad,” sê Mpakane.
Na aanleiding van hierdie leiding het beamptes toegeslaan op die twee mans wat verdink word van dwelmhandel. “Tydens die soektog het hulle dwelms, ’n ongelisensieerde vuurwapen en kontant ontdek wat vermoedelik met dwelmverkope verdien is. Hulle het op alle bewyse beslag gelê, wat in die hof gebruik sal word.”
Die verdagtes is dadelik in hegtenis geneem en ’n saak van dwelmhandel en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen word ondersoek. Die vuurwapen sal vir ballistiese toetse gestuur word om vas te stel of dit in enige ander misdaad gebruik is.
Intussen sal ‘n Chinese burger, Huan Chen (37), en sy medepligtige, Tshepo Lehokwa (22), Maandag voor die Mmabatho-landdroshof verskyn nadat hulle Saterdag op borg vrygelaat is van onderskeidelik R15 000 en R500.
Die beskuldigdes is Woensdag (30/10) in hegtenis geneem nadat 40 bokse sigarette ter waarde van meer as R500 000 in hul besit gevind is, sê kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder.
Halfmiljoen rand se sigarette
“Volgens inligting wat ons ontvang het, is die verdagtes se wit Mercedes Benz Sprinter op die R49 tussen Mahikeng en Ottoshoop opgespoor, waar die voertuig naby ’n brug gestop is. Die voertuig sowel as die twee insittendes is deursoek,” sê Myburgh.
“Tydens die soektog het die span op 40 houers Remington Gold-sigarett … afgekom. Die insittendes is in hegtenis geneem nadat hulle nie kon verduidelik waar hulle aan die goedere gekom het nie.”