On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse digter gee stemloses in die natuur ’n stem

───   12:24 Thu, 31 Oct 2024

Bloemfonteinse digter gee stemloses in die natuur ’n stem | News Article
Geo Jooste, prof. Jannie Pretorius en Johan Coetzee, van Naledi, wat die digbundel uitgee. Foto verskaf

’n Medeprofessor in opvoedkunde aan die Universiteit van die Vrystaat hoop sy eerste digbundel saam met ’n plaaslike natuurfotograaf sal lei tot nog kreatiewe samewerking.

Verskillende soorte musiek en die Bybel het ’n groot rol gespeel in die skryf van Stil gesprek – Gedigte by die foto’s van Geo Jooste, vertel prof. Jan Pretorius (61) van sy debuutbundel.

Geo Jooste (67), ’n oud-adjunkhoof van die Hoërskool Sentraal, is ’n gerekende natuurfotograaf wat al internasionale pryse losgeslaan het.


Soos die titel aandui, is die deurlopende tema gedigte wat in gesprek tree met natuurfoto’s. Pretorius sê dit gaan oor die stille gesprek met en tussen die stemloses, soos die lug, diere en plante.

“Ek het nog altyd gedigte geskryf oor die diere in die veld. Die idee het eendag by my opgekom om ’n bundel saam te stel. Ek het aan Geo se foto’s gedink en geweet dit sal kan werk saam met my gedigte.”

Hy het ook deur die foto’s gewerk en ’n klomp gekies. Foto verskaf

Pretorius het dieselfde dag nog kontak gemaak met Jooste, wat onmiddellik te vinde was vir die idee van samewerking. “Daardie aand het ek boonop ook bevestiging uit die Bybel gekry,” vertel hy. “So ek het geweet dit is die regte ding om te doen.”

Pretorius het vir hom ’n tent in sy agtertuin opgeslaan en begin skryf. Hy het ook deur die foto’s gewerk en ’n klomp gekies.

‘Die natuur is, naas die Bybel, die beste Christelike boek’

Jooste sê dit was vir hom ook ’n goeie ervaring en veral wonderlik om te sien dat elke foto sy storie vertel. “Elkeen is ook ’n viering van die grootsheid van die skepping.

“Ek het altyd vir my leerlinge gesê: Die natuur is, naas die Bybel, die beste Christelike boek. ’n Mens moet net leer hoe om dit reg te lees.”


Hulle is dankbaar vir die bundel se goeie ontvangs. Pretorius sê mense reageer goed daarop, en dit gee hom moed om dalk weer ’n projek aan te pak. “Dis ’n groot voorreg dat die digbundel gepubliseer is. Dit is ’n groot genoegdoening.”

Die digbundel is by Pretorius en Jooste beskikbaar, asook op Naledi se webtuiste.

OFM Nuus/Karen van den Berg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.