On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Anny
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfontein-ma soek antwoorde ná tref-en-trap haar seun eis

───   HEIDRÈ MALGAS 11:33 Wed, 30 Oct 2024

Bloemfontein-ma soek antwoorde ná tref-en-trap haar seun eis | News Article
Janco Fitzgerald (21). Foto verskaf

’n Ma van Bloemfontein wie se seun sy lewe verloor het ná ’n motorbotsing, vra dringend enige inligting wat kan help om die bestuurder van die ander voertuig aan die kaak te stel.

Janco Fitzgerald (21) is op 19 Oktober by ’n sirkel in Raymond Mhlabastraat, Noordhoek, van sy motorfiets afgestamp. Hy het die volgende dag in die Pelonomi-hospitaal gesterf. 

Sy ma, Madre de Waal, wend haar tot sosiale media om antwoorde te kry, aangesien daar geen inligting is oor die persoon wat haar seun omgery het nie.

Janco het ’n goeie hart gehad en altyd gehelp waar hy kon. Foto verskaf

“Die polisie het ’n donkergrys Honda se syspieël saam met stukke van my seun se motorfiets opgetel,” sê De Waal. “By ’n motorhandelaar vermoed hulle dit kan ’n Honda CRV wees.

“Ons het oral navraag gedoen waar daar kameras rondom die sirkel is, maar geen kamera werk, of daar is niks op die opnames te sien nie.”

Die ondersoekbeamptes het by polisiekantore navraag gedoen of iemand in hegtenis geneem is of dalk in ’n motorongeluk betrokke was, vertel sy. Van die mense in die omgewing het omgedraai toe hulle die slag gehoor het, maar die bestuurder het toe reeds weggery.

Dit is vermoedelik hoe die kar lyk wat Janco getref het. Foto verskaf.

“Die impak was groot, en my kind het vreeslik seergekry. Die persoon wat hom gestamp het, kon gestop en gehelp het; dalk was sy kans om te oorleef groter,” meen sy ma.

Die saak kan moontlik nie verder ondersoek word nie, omdat die polisie geen leidrade het nie.

“Janco was ’n vrye gees wat deur die swaarkry van die lewe gegaan het en ook die goeie dinge in die lewe geken het. Hy was die tipe mens wat sy laaste besittings sou gee om sy familie of vriende te help,” vertel sy ma.

“Hy het ’n goeie hart gehad en het altyd gehelp waar hy kon en elke dag geleef asof dit sy laaste was.”

Janco se roudiens word Vrydag (1/11) in die NG Kerk De Bloem gehou, waarna hy veras sal word.

Enigiemand met inligting word gevra om die Navalsig-polisiekantoor te bel.

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.