Central SA
Vrystaat gereed ná waarskuwing oor intense koue, ligte sneeu─── 06:00 Mon, 30 Sep 2024
“Weervoorspelling dui op ligte sneeuval oor bergpieke rondom dorpe soos Rouxville en Harrismith in die Vrystaat.”
Ná verlede naweek se verwoestende sneeuneerslae in Sentraal-Suid-Afrika wat verkeersopeenhopings op paaie in die Vrystaat, KwaZulu-Natal en Oos-Kaap veroorsaak het, word slegs ligte sneeu aan die begin van die week oor die Drakensberge verwag.
Die Wes-Kaap verwag egter swaarder sneeuneerslae. Daar word reënval vir sommige Suid-Vrystaatse dorpe asook koue weerstoestande oor die meeste dele elders in die provinsie voorspel, volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens.
Die weervoorspelling dui wel op ligte sneeuval oor die bergpieke rondom Oos-Vrystaatse dorpe soos Rouxville en Harrismith. Hierdie weerstoestande sal na verwagting tot Dinsdag voortduur.
Cogta het die Komitee van die Provinsiale Gesamentlike Operasies byeengeroep en geaktiveer ter voorbereiding van enige gebeurlikhede weens weerstoestande.
Die samewerking van alle betrokke provinsiale departemente en munisipaliteite sal ’n gekoördineerde en vinnige reaksie verseker in geval van enige gebeurlikheid.
Die departemente van maatskaplike ontwikkeling, gesondheid, landbou en landelike ontwikkeling en omgewingsake is gereed met noodleniging, mediese nooddienste is gereed en op bystand, veeveiligheid- en omgewingsbeskermingsmaatreëls is getref en spanne is op bystand om die nodige ondersteuning te bied.
In die Suid-Vrystaat is spanne op bystand om padveiligheid in die gebiede te handhaaf waar sneeu verwag word. Die departement van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer het skrapers uitgestuur in Rouxville, Petrusburg, Fauresmith, Trompsburg, Harrismith en ’n TLB in Van Reenen om hierdie gebiede in noodgevalle by te staan.
Intussen is vier verkeersbeamptes en een openbare beskermer ook ontplooi en werk saam met KwaZulu-Natal se padverkeerspan by die Snow Satellite by Van Reenen op die N3-hoofweg.
Alle voorbereidings voldoen aan die Wet op Rampbestuur, 2002 (Wet No. 57 van 2002) wat paraatheid, voorkoming en koördinering van noodreaksie vereis oor staatsdepartemente heen.
‘Hierdie stelsel verskil aansienlik van vorige naweek s’n’
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê hierdie stelsel verskil aansienlik van die vorige naweek s’n, daarom is die verwagte impak nie so beduidend nie.
Die weerdiens sal aanhou om ontwikkelinge met betrekking tot hierdie weerstelsel te monitor en sal daaropvolgende opdaterings uitreik, soos vereis.
Die publiek word versoek en aangemoedig om gereeld weervoorspellings op televisie en radio te volg, veral indien hulle beplande aktiwiteite in die natuur of reisplanne het.
OFM Nuus cg