On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Voortrekkers neem bestek op ná brand op Vrystaatse kultuurplaas

───   MORNÉ VAN ROOYEN 10:46 Fri, 06 Sep 2024

Voortrekkers neem bestek op ná brand op Vrystaatse kultuurplaas | News Article
Brandverenigings, plaaswagte, boere en hul werkers het heel Dondermiddag teen die vlamme gestry. Foto verskaf

“Daar is wel op en om Doornkloof ’n behoefte aan voer vir die diere en daaraan word ook aandag gegee en hulp gevra.”

Die Voortrekkers in die Vrystaat neem Vrydag (6/9) bestek op van die brandskade op hul plaas Doornkloof in die distrik Lindley ná ’n verwoestende veldbrand.

Die brand het Donderdag omstreeks 12:30 op ’n nabygeleë plaas ontstaan, maar dis nog nie bekend presies waar of hoe nie, sê Willie Engelbrecht, die Voortrekkers se gebiedsleier. “Dit het om en op Doornkloof baie erg gebrand.”

‘Ons wil graag al die boere opreg bedank vir hulle vinnige hulp’

Plaaswagte en brandverenigings van Lindley, Petrus Steyn, Steynsrus en Edenville het tot omstreeks 18:00 geswoeg om die vlamme te bedwing. “Ons wil graag al die boere van die omgewing opreg bedank vir hulle harde werk en vinnige hulp om die brand te blus,” sê Engelbrecht. “Ook almal op die plaas wat so hard gewerk het in hierdie moeilike tyd.”

’n Groot deel van die weiveld op Doornkloof het in die slag gebly. Foto verskaf

Hoewel hulle nog besig is met ’n bestekopname van die skade, is dit duidelik dat ’n groot deel van die weiveld op Doornkloof in die slag gebly het. “Daar is skade op die Suiderkruis-terrein, in en om die Soetdoring-saal en die algemenestoorvoorraad het skade. Geen ander terreine is beskadig nie.”

Engelbrecht sê hulle gaan beslis voort met die Penkop- en Drawwertjie-gebiedskamp en het reeds begin opruim en skoonmaak. Hy gee die versekering die kinders sal veilig tydens die gebiedskampe wees. “Die geboue en eiendom is verseker en adjunkgebiedsleier Marietjie van der Walt is reeds besig met die proses.”

Vyf dae voor die brand het die Voortrekkers feesgevier oor die plaas Doornkloof.

Doornkloof, nagenoeg in die middel van ’n driehoek tussen Steynsrus, Edenville en Lindley, is die geskiedkundige plaas van die Voortrekkerleier Sarel Cilliers, waar hy oorlede is op 4 Oktober 1871 in die ouderdom van 70 jaar nadat hy hom in 1847 daar gevestig het.

Die Voortrekkers het die plaas 85 jaar gelede bekom en gebruik dit self of stel dit beskikbaar vir uitspannaweke, kampe, troues, konferensies en saamtrekke. Van die besienswaardighede is Cilliers se opstal, die Sarel Cilliers-museum en die trekkerspoorstaproete, ’n unieke wandeling na verskeie besienswaardighede. Die Voortrekkerleier is ook hier begrawe.

Daar word tans ’n bestekopname van die skade gedoen. Foto verskaf

Engelbrecht vra voorbidding vir almal in die omgewing wat geraak is deur die verwoestende brand en wat skade gely het. “Ons het nie ekstra hulp op die plaas nodig nie en sal als gereed kan maak vir die gebiedskampe en die hoofbestuur wat volgende week op Doornkloof vergader.

Vrystaatse Voortrekkers kampeer gereeld op Doornkloof. Foto: Facebook

“Daar is wel op en om Doornkloof ’n behoefte aan voer vir die diere en daaraan word ook aandag gegee en hulp gevra.”

Hy gee die versekering hulle sal, getrou aan hul leuse, “koers hou in hierdie moeilike tyd en vra asseblief almal se voorbidding ook vir die Vrystaat Voortrekkers en die pad wat vir ons voorlê om weer ons plaas op te bou in hierdie tyd”.

OFM Nuus/Morné van Rooyen cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.